hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18 Bybel vir Almal (ABA)

Die Dan-stam vat Miga se beeld en gaan woon in Lajis

1. In daardie tyd was daar nie ’n koning in die land Israel nie. Die Dan-stam het vir hulle ’n ander plek gesoek om te woon. Hulle het dit gedoen omdat hulle nie ’n plek gekry het wat hulle eie was tussen die ander stamme van Israel nie.

2. Die Dan-mense het vyf mans uit verskillende families en plekke gekies en hulle het die mans gestuur om deur die land te gaan en te kyk waar hulle kan woon. Dit was belangrike mans. Die Dan-mense het vir hulle gesê hulle moet gaan kyk waar hulle kan woon. Die vyf mans het weggegaan uit die stede Sora en Estaol en hulle het in die Efraim-berge by Miga se huis gekom. Hulle wou daar slaap.

3. Toe hulle by Miga se huis kom, het hulle die jongman, die Leviet, gehoor praat. Hulle het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Wie het jou hiernatoe gebring en wat doen jy hier? Hoekom is jy hier?”

4. Die jongman het vir hulle gesê Miga het hom gehuur en hy is Miga se priester.

5. Hulle sê toe vir hom: “Vra asseblief wat God wil hê ons moet doen. Ons wil weet of dit goed sal gaan met ons waar ons gaan.”

6. Die priester het dit gedoen en vir hulle gesê: “Dit sal goed gaan met julle, die Here sal vir julle wys waarnatoe julle moet gaan.”

7. Die vyf mans het toe gegaan en hulle het by die stad Lajis gekom. Daar het hulle gesien die mense is oor niks bekommerd nie, hulle dink hulle woon veilig, soos die Sidon-mense altyd gedink het. Hulle het gedink ander mense sal hulle nie aanval nie en hulle het alles gehad wat hulle nodig gehad het. Hulle was ver van die stad Sidon, maar niemand het hulle probeer aanval en verdruk nie. Niemand het iets van hulle geweet nie.

8. Die vyf mans het toe teruggegaan na hulle mense in Sora en Estaol. Hulle mense het vir hulle gevra: “Wat het julle gesien?”

9. Die vyf mans het gesê: “Kom, ons moet gaan. Ons het ’n land gesien wat baie goed is. Maar julle moet gou maak. Julle moenie wag nie! Gaan dadelik en gaan vat daardie land.

10. Julle sal daar kom by mense wat dink ander mense sal hulle nie aanval nie. En die land is oop na al die kante toe. God wil vir julle ’n land gee waar daar genoeg is van alles.”

11. Daar het toe 600 mans van die Dan-families uit Sora en Estaol gegaan. Almal het wapens gehad om oorlog te maak.

12. Hulle het gegaan tot by die stad Kirjat-Jearim in die land Juda en hulle het daar hulle tente opgeslaan. Die mense noem daardie plek nou nog Dan-kamp. Dit is anderkant Kirjat-Jearim.

13. Van daar het die Dan-manne na die Efraim-berge gegaan en hulle het by Miga se huis gekom.

14. Die vyf mans wat gaan kyk het hoe die land by Lajis lyk, het vir hulle maats gesê: “Weet julle, in hierdie huis is ’n skouer-kleed en beeldjies en ’n beeld. Julle weet nou self wat julle moet doen.”

15. Hulle het toe na die jongman, die Leviet, se huis gegaan, langs die huis van Miga, en hulle het die jongman gegroet.

16. Die 600 Dan-manne het met hulle wapens voor die poort gaan staan,

17. en die vyf mans wat gaan kyk het waar hulle kan woon, het ingegaan en die skouer-kleed en die beeldjies en die beeld gevat. Die priester het ook voor die poort gaan staan waar die 600 manne was.

18. Toe daardie mans uit die huis van Miga kom met die beeld en die skouer-kleed en die beeldjies wat hulle gevat het, het die priester vir hulle gesê: “Wat doen julle?”

19. Hulle het vir hom gesê: “Bly stil, jy moet niks sê nie. Kom saam met ons. Jy moet ons priester wees en vir ons leer. Dit is beter dat jy ’n priester is vir ’n hele stam van Israel, nie net vir een man nie.”

20. Die priester het gedink dit is goed en hy het die skouer-kleed en die beeldjies en die beeld gevat en saam met die mense gegaan.

21. Hulle het hulle kinders en oumense en hulle skape en bokke en hulle ander goed voor hulle laat gaan en hulle het verder gegaan.

22. Toe hulle ver weg was van Miga se huis, het Miga ander mense gevra om hom te help om die Dan-mense te volg en te jaag.

23. Toe hy by die Dan-mense kom, het hy vir hulle geskree. Die Dan-mense het omgekyk en gevra: “Wat is fout? Hoekom skree jy so?”

24. Miga het vir hulle gesê: “Julle het my gode gevat wat ek gemaak het, en ook my priester, en julle het weggeloop. Ek het nou niks, en nou vra julle vir my: ‘Wat is fout?’ ”

25. Die Dan-mense het vir Miga gesê: “Jy moenie hier by ons staan en skree nie. Party van ons is mense wat gou kwaad word. Hulle sal jou en jou mense doodmaak.”

26. Toe gaan die Dan-mense verder. Miga was bang, want hulle was meer en sterker as hy en sy mense. Hy het omgedraai en in sy huis gaan bly.

27. Die Dan-mense het Miga se beelde en sy priester saamgevat en hulle het by die stad Lajis gekom. Die mense daar het gedink niemand sal hulle aanval nie, maar die Dan-mense het hulle doodgemaak en hulle het die stad verbrand.

28. Niemand kon die mense van Lajis help nie, want hulle was ver van Sidon en niemand het iets van hulle geweet nie. Die stad was in die vallei naby Bet-Regob. Die Dan-mense het weer ’n stad gebou en hulle het daar gaan woon.

29. Hulle het die stad Dan genoem. Dit was die naam van hulle voorvader, die seun van Jakob. Die plek se naam was voorheen Lajis.

30. Die Dan-mense het die beeld daar neergesit. Die Leviet Jonatan en sy seuns was priesters vir die Dan-stam totdat vyande hulle almal weggevat het na ’n ander land. Hulle was van die nageslag van Gersom seun van Moses.

31. Die Dan-mense het die beeld wat Miga gemaak het, in hulle stad neergesit, en dit het altyd daar gebly toe die tempel van die Here in Silo was.