hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die mense van die Efraim-stam vra toe vir Gideon: “Hoekom het jy dit met ons gedoen? Hoekom het jy ons nie geroep toe jy gegaan het om teen die Midianiete oorlog te maak nie?”Hulle was baie kwaad vir Gideon.

2. Maar hy het vir hulle gesê: “Julle het baie meer gedoen as ek. Die mense van die Efraim-stam het later gekom maar hulle het meer gedoen as die familie Abiëser.

3. God het julle gehelp om te wen teen Kraai en Wolf, die generaals van Midian. Julle het baie meer gedoen as wat ek kon doen.”Toe Gideon dit vir die mense van die Efraim-stam sê, was hulle nie meer kwaad nie.

4. Gideon het by die Jordaan-rivier aangekom, en hy en die 300 manne het deur die rivier gegaan. Hulle was baie moeg, maar hulle wou die Midianiete nog volg en jaag.

5. Gideon vra toe vir die mense van die stad Sukkot: “Gee asseblief brood vir die manne wat by my is. Hulle is baie moeg, en ek is nog besig om vir Sebag en Salmunna, die konings van die Midianiete, te volg en te jaag.”

6. Maar die leiers in die stad Sukkot het vir Gideon gesê: “Jy maak of jy al klaar gewen het teen Sebag en Salmunna. Hoekom moet ons vir jou manne brood gee?”

7. Gideon het geantwoord: “Die Here sal my laat wen teen Sebag en Salmunna, en dan sal ek terugkom. Ek sal julle doodmaak en julle vleis stukkend skeur met woestyndorings.”

8. Gideon het van Sukkot na die stad Pniël gegaan en hy het vir hulle ook brood gevra, maar die mense van Pniël het hom soos die mense van Sukkot geantwoord.

9. Hy het vir die mense van Pniël gesê: “Ek sal terugkom en nog lewe, en dan sal ek hierdie toring afbreek.”

10. Sebag en Salmunna was by die stad Karkor, en daar was omtrent 15 000 manne by hulle. Net hierdie manne het oorgebly van al die Oosmense. Daar het toe al 120 000 van hulle manne in die oorlog gesterf.

11. Gideon het met die Nomade-pad gegaan oos van die stede Nobag en Jogboha, en hy het die kamp van Sebag en Salmunna aangeval toe hulle dit nie verwag het nie.

12. Sebag en Salmunna het gevlug, maar Gideon het hulle gejaag en gevang. Al die ander mense in hulle kamp het so geskrik dat hulle niks kon doen nie.

13. Gideon het van die oorlog teruggekom oor die Geres-pas.

14. Hy het ’n seun van die Sukkot-mense gevang en hy het vir die seun gevra wie die amptenare en leiers van die stad is. Die seun het vir Gideon die name opgeskryf van 77 amptenare en leiers van die stad.

15. Toe het Gideon by die Sukkot-mense gekom en hy het vir hulle gesê: “Julle het my gespot en gesê: ‘Jy maak of jy al klaar gewen het teen Sebag en Salmunna. Hoekom moet ons vir jou manne brood gee?’ Hier is Sebag en Salmunna nou.”

16. Gideon het woestyndorings gevat en hy het die leiers van Sukkot daarmee geslaan.

17. Hy het ook die toring van Pniël omgegooi en hy het die mans van die stad doodgemaak.

18. Daarna het Gideon vir Sebag en Salmunna gevra: “Hoe het die mans gelyk wat julle in Tabor doodgemaak het?”Sebag en Salmunna sê toe: “Hulle het gelyk soos jy. Hulle het gelyk of hulle ’n koning se seuns is.”

19. Gideon het gesê: “Hulle was my eie broers. So seker soos die Here lewe, as julle hulle nie doodgemaak het nie, dan sou ek julle nie doodgemaak het nie.”

20. Hy sê toe vir sy oudste seun Jeter: “Kom, maak hulle dood.” Maar die jongman het nie sy swaard uitgehaal nie. Hy was bang, want hy was nog jonk.

21. Sebag en Salmunna het gesê: “Gideon, jy self moet ons doodmaak, want jy is ’n man en jy is sterk.”Gideon het toe vir Sebag en Salmunna doodgemaak, en hy het die goue kettings om hulle kamele se nekke vir homself gevat.

22. Die Israeliete het vir Gideon gesê: “Jy moet nou oor ons regeer, jy en jou nageslag ná jou, want jy het ons gered van die Midianiete.”

23. Maar Gideon het vir hulle gesê: “Ek sal nie oor julle regeer nie, en my seun sal ook nie oor julle regeer nie. Die Here sal oor julle regeer.

24. Maar ek wil vir julle iets vra: Julle moet elkeen vir my ’n oor-ring gee van die goed wat julle van die vyande gevat het.”Die vyande was Ismaeliete en hulle het oor-ringe gedra.

25. Die Israeliete het gesê: “Goed, ons sal gee wat jy vra.”Hulle het toe ’n bo-kleed oopgegooi en elkeen het daarop ’n oor-ring gegooi van die goed wat hulle van die vyand gevat het.

26. Die goue oor-ringe wat Gideon gekry het, het 1 700 sikkels geweeg. Hy het ook die juwele en die mooi klere van die konings van Midian gekry, en die kettings wat om hulle kamele se nekke was.

27. Gideon het die goud geneem en hy het ’n beeld daarvan laat maak, en hy het die beeld in sy stad Ofra neergesit. Al die Israeliete het ontrou geword aan die Here en die beeld begin aanbid. Gideon en sy familie het dit ook gedoen.

28. Die Israeliete het gewen teen die Midianiete, en die Midianiete was nou nie meer so sterk dat hulle die Israeliete kon aanval nie. Daar was nog 40 jaar lank vrede in die land, totdat Gideon gesterf het.

29. Gideon het in sy huis gaan woon.

30. Hy was die pa van 70 seuns, want hy het baie vroue gehad.

31. Hy het ook ’n seun gehad by sy byvrou in Sigem, en hy het die seun Abimelek genoem.

32. Gideon was oud toe hy gesterf het. Hulle het hom begrawe in sy pa Joas se graf in Ofra waar die familie Abiëser gewoon het.

33. Nadat Gideon gesterf het, het die Israeliete weer ontrou geword aan die Here en hulle het die Baäls gedien. Hulle het Baäl-Berit gekies om hulle god te wees.

34. Ja, die Israeliete het nie hulle God die Here onthou nie, die God wat hulle gered het van hulle vyande wat rondom hulle gewoon het.

35. Hulle het ook nie al die goeie dinge onthou wat Gideon vir hulle gedoen het nie, en hulle was nie goed vir sy familie nie.