hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 4 Bybel vir Almal (ABA)

Debora en Barak

1. Die Israeliete het weer dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Ná die dood van Ehud

2. het die Here vir koning Jabin van Kanaän gehelp om die Israeliete te oorwin. Koning Jabin se paleis was in die stad Hasor. Sisera was die hoof van sy leër, en hy het gewoon in Garoset-Gojim.

3. Jabin het 900 oorlogkarre van yster gehad, en hy het die Israeliete 20 jaar lank verdruk. Die Israeliete het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help.

4. In daardie tyd was Debora die leier van die Israeliete. Sy was ’n profeet en sy was getroud met Lappidot.

5. Sy het altyd onder ’n palmboom gesit, die Debora-palm, en die Israeliete het na haar toe gegaan wanneer hulle probleme gehad het. Die Debora-palm was in die Efraim-berge tussen Gorma en Bet-El.

6. Debora het vir Barak in Kedes-Naftali laat roep. Hy was die seun van Abinoam. Sy het vir hom gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Jy moet 10 000 manne van die Naftali-mense en die Sebulon-mense saam met jou neem en op Tabor-berg gaan wag.

7. Ek sal Sisera, die hoof van Jabin se leër, vir jou laat wag by die Kison-rivier. Hy sal sy oorlogkarre en sy manne by hom hê, maar Ek sal jou laat wen teen hom.’ ”

8. Barak het vir Debora gesê: “Ek sal gaan as jy saam met my gaan, maar as jy nie saam met my gaan nie, dan sal ek nie gaan nie.”

9. Debora het gesê: “Ja, ek sal saam met jou gaan, maar onthou, wanneer julle die vyand oorwin, dan sal jy nie die eer kry nie, want die Here sal ’n vrou gebruik om Sisera dood te maak.”Debora het saam met Barak na Kedes gegaan.

10. Barak het die manne van Sebulon en Naftali na Kedes laat kom. Saam met hom het 10 000 manne gegaan, en Debora het ook saamgegaan.

11. Geber was ’n Keniet en hy was van die nageslag van Gobab, die skoonpa van Moses. Geber het weggetrek van die Keniete en hy het sy tent gaan opslaan by die groot boom in Saänannim naby Kedes.

12. Sisera het gehoor Barak het teen Tabor-berg opgegaan.

13. Sisera het sy 900 oorlogkarre van yster en ook al sy soldate uit Garoset-Gojim laat kom na die Kison-rivier.

14. Debora sê toe vir Barak: “Maak oorlog teen hulle, want die Here sal jou vandag laat wen teen Sisera. Onthou, die Here gaan voor jou, Hy sal jou help.”Barak het afgegaan van Tabor-berg, en die 10 000 manne het saam met hom gegaan.

15. Die Here het Sisera en al sy manne op die oorlogkarre en al sy soldate baie groot laat skrik vir Barak. Sisera self het van sy oorlogkar afgespring en gevlug.

16. Barak en sy manne het die oorlogkarre en die leër van Sisera gevolg en gejaag tot by Garoset-Gojim, en hulle het al die soldate doodgemaak, nie een het aangehou lewe nie.

17. Sisera het gehardloop en gevlug na die tent van Jael, die vrou van die Keniet Geber. Daar was vrede tussen die familie van die Keniet Geber en koning Jabin van Hasor.

18. Jael het vir Sisera gaan ontmoet. Sy het vir hom gesê: “Kom, Meneer, kom na my toe. Moenie bang wees nie.”Sisera het na haar tent gekom, en sy het hom laat wegkruip onder ’n kombers.

19. Hy het vir haar gesê: “Ek is dors. Gee vir my asseblief ’n bietjie water om te drink.”

20. Sy het die melksak oopgemaak en vir hom melk gegee om te drink. Daarna het sy hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Jy moet by die tentdeur staan, en as iemand vir jou vra of hier iemand is, dan moet jy sê: ‘Nee.’ ”

21. Sisera was moeg en hy het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe ’n tentpen en ’n hamer gevat en saggies na Sisera toe gegaan. Sy het die pen deur sy kop geslaan tot in die grond. Hy het gesterf.

22. Barak het vir Sisera kom soek, en Jael het na Barak toe gegaan. Sy het vir hom gesê: “Kom, ek sal vir jou die man wys wat jy soek.”Barak het na haar tent gekom, en toe lê Sisera daar dood. Die tentpen was deur sy kop.

23. Ja, die Here het daardie dag vir koning Jabin van Kanaän verneder. Die Israeliete het gewen.

24. Die Israeliete het ’n sterker volk geword en hulle het koning Jabin van Kanaän verdruk, totdat hulle hom heeltemal oorwin het.