hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 17 Bybel vir Almal (ABA)

Die beeld wat Miga gemaak het

1. Daar het ’n man in die Efraim-berge gewoon. Sy naam was Miga.

2. Hy het vir sy ma gesê: “Ma, onthou jy daardie 1 100 stukke silwer wat iemand van jou gesteel het? Ek het gehoor toe jy daardie dief vervloek het. Daardie silwer is by my, ek het dit gevat.”Toe sê sy ma: “Die Here sal jou seën, my seun.”

3. Hy het die 1 100 stukke silwer vir sy ma teruggegee. Maar toe sê sy: “Ek wy die silwer alles aan die Here, en ek gee dit vir my seun om ’n beeld te maak. Ek gee dit nou vir jou terug.”

4. Sy het 200 stukke silwer geneem van die silwer wat Miga vir haar teruggegee het, en sy het dit vir ’n silwersmid gegee. Die silwersmid het ’n beeld gemaak van die silwer. Die beeld het in Miga se huis gestaan.

5. Miga het sy eie tempel gehad. Hy het ’n skouer-kleed en beeldjies gemaak en hy het een van sy seuns gewy om sy priester te wees.

6. In daardie tyd was daar nie ’n koning in die land Israel nie, en elkeen het gedoen wat hy gedink het is reg.

7. Maar daar was ’n jongman van die stad Betlehem in die land Juda. Hy was van ’n familie wat in Juda gewoon het en hy was ’n Leviet. Hy het eers in Betlehem gewoon. Hy was daar ’n vreemdeling,

8. maar hy het daar weggegaan om ’n ander plek te soek waar hy ook ’n vreemdeling sou wees. Hy het toe in die Efraim-berge by die huis van Miga gekom.

9. Miga het vir hom gevra: “Van waar kom jy?”Die jongman het gesê: “Ek is ’n Leviet van Betlehem in Juda en ek soek ’n plek om te woon.”

10. Toe sê Miga vir hom: “Jy moet by my bly. Jy moet vir my leer en jy moet vir my ’n priester wees. Ek sal elke jaar vir jou tien stukke silwer betaal en ek sal vir jou klere en kos gee.”

11. Die jongman het gesê dit is goed, hy sal by Miga bly. Hy was vir Miga soos een van sy seuns.

12. Miga het die Leviet gewy, en die Leviet het sy priester geword en in sy huis gebly.

13. Miga het toe gesê: “Nou weet ek die Here is goed vir my, want ’n Leviet is my priester.”