Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18:4-19 Bybel vir Almal (ABA)

4. Die Leviete moet by jou wees en hulle moet die werk doen by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, hulle moet help met al die werk by die tent. Niemand anders mag naby julle kom nie.

5. Julle self moet die werk by die tempel-tent en die altaar doen. Dan sal Ek nie weer kwaad word vir die Israeliete nie.

6. Ek self het julle familie, die Leviete, weggeneem tussen die Israeliete. Ek het hulle vir My geneem om die werk te doen by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn. Ek gee die Leviete vir julle om julle te help.

7. Maar jy en jou seuns moet die priesters wees wat die werk doen by die altaar en in die kamer agter die gordyn. Ek gee daardie werk vir julle. Maar wanneer iemand anders daardie werk doen, dan sal hy sterf.”

8. Die Here het vir Aäron gesê: “Ek self het vir jou gesê jy moet kyk dat mense die regte offers vir My bring. Ek gee van nou af vir jou al die gewyde presente wat die Israeliete vir My bring. Dit sal altyd aan jou en jou seuns behoort, dit is wat julle moet kry.

9. Jy moet die deel van die hoog-gewyde offers kry wat julle nie verbrand nie, dit is al die koring-offers, al die sonde-offers, al die skuld-offers. Dit is al die hoog-gewyde offers wat die Israeliete vir My bring. Jy en jou seuns moet dit kry.

10. Dit is hoog-gewyde dinge, maar julle mag dit eet. Elke man of seun in jou familie mag dit eet. Dit moet vir julle gewyde dinge wees.

11. Elke beweeg-offer wat die Israeliete vir My gee, is ook joune. Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters saam met jou. Dit moet altyd so wees. Elkeen in jou huisgesin wat rein is, mag daarvan eet.

12. Wanneer die Israeliete van die eerste olyf-olie, wyn en koring vir My bring, dan gee Ek vir jou die beste daarvan.

13. Die eerste van alles wat in die grond groei en wat hulle vir My bring, moet joune wees. Elkeen in jou huisgesin wat rein is, mag daarvan eet.

14. Alles in die land Israel wat gewy is, moet joune wees.

15. Wanneer die Israeliete die oudste seun of die eerste kleintjie van ’n dier vir My bring, dan is dit joune. Maar jy moet elke oudste seun en elke eerste kleintjie van ’n onrein dier loskoop.

16. As jy ’n seun of ’n dier wil loskoop wanneer hy ’n maand oud is, dan moet jy vyf silwer sikkels betaal, dit moet tempel-sikkels wees wat elkeen 20 gera weeg.

17. Jy moenie die eerste bees-kalf of skaap-lam of bok-lam loskoop nie. Hulle is gewyd. Jy moet hulle bloed teen die altaar uitgooi en jy moet hulle vet verbrand. Dit is ’n vuur-offer wat lekker ruik vir die Here.

18. Maar die vleis van die diere moet joune wees, en die bors van die beweeg-offer en die boud is ook joune.

19. Ek het vir jou en jou seuns en jou dogters al die gewyde presente gegee wat die Israeliete vir My bring. Julle sal dit altyd kry. Dit belowe Ek, jy en jou nageslag sal dit altyd kry.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 18