Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 9:25-37 Bybel vir Almal (ABA)

25. Hulle het die stede oorwin wat sterk mure gehad het en hulle het die vrugbare grond vir hulle gevat. Hulle het huise gevat wat vol kosbare goed was, ook watergate wat die mense in die rots gekap het, wingerde, olyfbome en baie vrugtebome. Hulle kon eet totdat hulle genoeg gehad het, hulle het vet geword. Hulle het die goeie dinge geniet wat U gegee het.

26. “Maar hulle was hardkoppig, hulle was opstandig teen U. Hulle wou nie doen wat U wil hê nie. U profete het hulle gewaarsku en het gesê hulle moet terugkom na U toe, maar hulle het die profete doodgemaak. Hulle het vir U beledig.

27. “U het hulle vyande laat wen teen hulle, die vyande het hulle laat swaarkry. En toe hulle swaarkry, het hulle na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister. U is altyd goed vir mense wat swaarkry. Daarom het U mense gestuur wat hulle gered het van hulle vyande.

28. Maar toe hulle al hulle vyande oorwin het, het hulle weer verkeerde dinge gedoen. U het hulle vyande laat wen teen hulle, en die vyande het oor hulle regeer. Hulle het weer na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister, U het hulle gered, want U is goed vir mense wat swaarkry. U het dit baie maal gedoen.

29. U het hulle gewaarsku en gesê hulle moet weer doen wat U wil hê, maar hulle wou nie. Hulle wou nie doen wat U wil hê nie. Hulle het sonde gedoen teen u wette, wette wat ’n mens laat lewe het as jy doen wat die wette sê. Hulle was hardkoppig en opstandig, hulle het nie geluister nie.

30. U was geduldig met hulle, baie jare lank. U het u Gees vir die profete gegee en U het die profete gestuur om hulle te waarsku. Maar hulle het nie geluister nie, en U het die ander volke van die land laat wen teen hulle.

31. Maar U is goed vir mense wat swaarkry, U het hulle nie almal laat sterf nie. U het hulle nie gelos nie, want U is ’n God wat genadig is en wat goed is vir mense wat swaarkry.

32. “En nou, ons God, almal is bang vir U, U wat die groot en sterk God is. U hou aan om te doen wat U in u verbond belowe het. U moet kyk hoe swaar ons gekry het. Ons konings, ons amptenare, ons priesters, ons profete, ons voorvaders, u hele volk het swaargekry, van die tyd van die konings van Assirië af tot vandag toe.

33. Maar U het reg gedoen toe U dit alles laat gebeur het. U het dieselfde gebly, en ons het verkeerde dinge gedoen.

34. Ons konings, ons amptenare, ons priesters en ons voorvaders het nie gedoen wat U wil hê nie. U het gesê wat hulle moet doen en U het hulle gewaarsku, maar hulle het dit nie gedoen nie.

35. Hulle het ’n eie koning gehad, en hulle het baie goeie dinge van U gekry in die groot en vrugbare land wat U vir hulle gegee het, maar hulle het nie vir U gedien nie en hulle het nie opgehou om verkeerde dinge te doen nie.

36. Hier is ons vandag slawe, ons is slawe in die land wat U vir ons voorvaders gegee het. U het die land vir hulle gegee sodat hulle kon eet en die goeie dinge van die land kon geniet.

37. Ons het sonde gedoen, daarom laat U konings oor ons regeer, hulle doen wat hulle wil met ons en ons diere. Dit gaan baie sleg met ons.”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 9