Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 8:13-19 Bybel vir Almal (ABA)

13. Toe het al die mense gegaan en hulle het geëet en gedrink en vir ander mense ook daarvan gestuur. Dit was ’n groot fees, want hulle het verstaan wat Esra vir hulle gelees het.

14. Die volgende dag het al die familiehoofde saam met die priesters en Leviete bymekaargekom by die sekretaris Esra om te leer wat die wette sê.

15. Hulle het gehoor dat daar in die wette geskryf is dat die Israeliete in hutte moet woon terwyl hulle die fees in die sewende maand vier. Die Here het hierdie wette vir Moses gegee.

16. Hulle het ook gehoor dat hulle boodskappe moet stuur vir almal in die stede en in Jerusalem. Hulle moet vir die mense sê: “Julle moet na die berge gaan en takke bring, takke van olyfbome, olienhoutbome, palmbome en ander bome wat blare het. Julle moet hutte maak van die takke, dit is wat die wette sê.”

17. Die mense het gegaan en hulle het takke gebring. Hulle het vir hulle hutte gemaak op hulle huise se dakke en op die oop stukke grond by hulle huise, by die tempel, by die Water-poort en die Efraim-poort.

18. Almal wat teruggekom het uit Babel waar hulle gevangenes was, het hutte gemaak en hulle het daarin gewoon. Dit was die eerste maal dat die Israeliete dit weer gedoen het van die tyd van Josua seun van Nun af. Almal was baie bly.

19. Van die eerste dag van die fees tot die laaste dag het Esra elke dag uit die wetboek van God gelees. Hulle het die fees sewe dae lank gevier. Op die agste dag het hulle ’n gewyde feesdag gevier, soos die wette sê.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 8