Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:18-31 Bybel vir Almal (ABA)

18. Julle voorvaders het dit ook gedoen, en ons God het al hierdie slegte dinge laat gebeur met ons en met die stad. Julle maak Hom nog meer kwaad wanneer julle die Sabbatdag ontwy.”

19. Ek het toe dít gedoen: Ek het gesê hulle moet die poorte van Jerusalem sluit wanneer die Sabbatdag begin, en hulle moenie die poorte oopmaak voordat die Sabbatdag verby is nie. Ek het party van my manne by die poorte laat staan om te kyk dat daar nie goed inkom op die Sabbatdag nie.

20. Die handelaars en die ander mense wat goed verkoop, het toe een of twee aande buite teen die muur van die stad geslaap.

21. Ek het hulle gewaarsku en gesê: “Hoekom slaap julle hier teen die muur? As julle dit weer doen, dan sal ek julle straf.”Hulle het toe nie weer op die Sabbatdag gekom nie.

22. Ek het vir die Leviete gesê hulle moet hulleself reinig en by die poorte kom wagstaan, sodat die Sabbatdag ’n gewyde dag sal wees. Ek het gebid en gesê: “My God, U moet dit ook onthou, U moet goed wees vir my, U is altyd goed vir mense wat aan U behoort.”

23. Ek het ook in daardie tyd gesien dat party Judeërs vroue gehad het wat uit die stad Asdod gekom het of wat Ammoniete of Moabiete was.

24. Party van hulle kinders het die taal van Asdod gepraat en die ander kinders het die tale van ander volke gepraat. Nie een kind kon die Judese taal praat nie.

25. Ek het met daardie Judeërs geraas. Ek het hulle vervloek en hulle geslaan en hulle hare uitgetrek. Ek het gesê hulle moet belowe dat hulle nie hulle dogters sal laat trou met die seuns van die heidene nie en dat hulle nie hulle seuns sal laat trou met die dogters van die heidene nie. Hulle moes ook belowe om nie self met die heidene te trou nie, en ek het gesê God is die getuie.

26. Ek het vir hulle gesê: “Koning Salomo van Israel het ook sonde gedoen toe hy getrou het met vroue wat nie Israeliete is nie. Ja, daar is nie ’n volk wat ’n beter koning gehad het as hy nie. God was lief vir hom en God het hom koning laat word oor die hele Israel, maar sy vroue wat nie Israeliete was nie, het hom sonde laat doen.

27. En nou hoor ons dat julle hierdie baie verkeerde ding gedoen het en getrou het met vroue wat nie Israeliete is nie. Julle is ontrou aan ons God.”

28. ’n Seun van Jojada, seun van die hoëpriester Eljasib, was getroud met ’n dogter van Sanballat die Goroniet. Ek het die seun weggejaag.

29. Ek het gebid en gesê: “My God, U moet onthou dat hulle die werk van priesters ontwy het. Hulle het nie gedoen wat die priesters en die Leviete belowe het nie.”

30. Ek het alles weggevat wat nie reg is nie, en ek het vir die priesters en die Leviete gesê hoe elkeen sy werk moet doen.

31. Ek het ook gesê wanneer die mense die hout en die eerste vrugte moet bring.Ek het gebid en gesê: “My God, U moet dit onthou, U moet dit goed laat gaan met my.”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13