Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 5:10-19 Bybel vir Almal (ABA)

10. Die priester moet die tweede duif offer soos hy altyd ’n brand-offer offer. Die priester doen so versoening vir die persoon, en die Here sal sy sonde vergewe.

11. As die persoon nie duiwe kan koop nie, dan moet hy een tiende van ’n efa van die beste meel bring om ’n sonde-offer te wees vir die sonde wat hy gedoen het. Hy moenie olie op die meel gooi nie en hy moenie wierook bo-op sit nie, want dit is ’n sonde-offer.

12. Hy moet die meel vir die priester bring. Die priester moet ’n handvol van die meel neem en hy moet dit verbrand op die altaar, saam met die vuur-offer vir die Here. Die handvol meel is die teken van die hele offer. Dit is ’n sonde-offer.

13. So doen die priester versoening vir die persoon se sonde, en die Here sal hom vergewe. Die priester mag die meel kry wat oorgebly het, soos by die koring-offer.”

14. Die Here het vir Moses gesê:

15. “Iemand wou miskien nie verkeerd doen nie, maar hy het verkeerd gedoen met die gewyde dinge van die Here. Dan moet hy ’n gesonde skaap-ram vir die Here gee om ’n skuld-offer te wees.

16. Die persoon moet dan die geld betaal vir die sonde wat hy gedoen het teen die gewyde dinge. Hy moet ook nog een vyfde bysit en hy moet dit vir die priester gee. Die priester moet dan vir die persoon versoening doen met die ram wat ’n skuld-offer is, en die Here sal die persoon se sonde vergewe.

17. “Iemand weet miskien nie dat hy sonde doen omdat hy ongehoorsaam is aan een van die gebooie nie. As hy ongehoorsaam is, dan is hy skuldig en dan moet hy betaal.

18. Hy moet ’n gesonde skaap-ram na die priester toe bring om ’n skuld-offer te wees. Jy moet sê hoe groot die ram moet wees. Die priester moet dan versoening doen vir die sonde wat die persoon gedoen het. Hy het nie geweet dat hy die sonde doen nie maar hy het dit gedoen. Die Here sal hom vergewe.

19. “Dit is die skuld-offer, wanneer iemand regtig skuldig is voor die Here.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 5