Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 10:12-20 Bybel vir Almal (ABA)

12. Aäron het twee seuns gehad wat nog gelewe het, hulle name was Eleasar en Itamar. Moses het vir Aäron en sy twee seuns gesê: “Julle moet die koring-offer neem wat oorgebly het van die vuur-offers vir die Here, en julle moet dit langs die altaar eet, want dit is hoog-gewyd. Daar moenie suurdeeg in die brood van die koring-offer wees nie,

13. en julle moet dit eet op ’n gewyde plek. Dit is die deel wat jy en jou seuns kry van die vuur-offers vir die Here, soos ek gesê het.

14. Julle mag die bors-stuk van die beweeg-offer kry en ook die boud wat ’n present is, julle moet dit eet op ’n rein plek, jy en jou seuns en jou dogters. Dit is die deel wat julle kry van die ete-offers van die Israeliete.

15. Hulle moet die boud wat ’n present is en die bors van die beweeg-offer bring saam met die vet vir die vuur-offer en hulle moet dit beweeg voor die Here om ’n beweeg-offer te wees. Dit is die deel wat jy en jou seuns altyd moet kry, soos die Here gesê het.”

16. Toe Moses vra waar die bok is wat ’n sonde-offer moes wees, was dit al klaar verbrand. Moses was kwaad vir Eleasar en Itamar, die seuns van Aäron wat nog gelewe het. Moses het gesê:

17. “Julle moes die sonde-offer in die gewyde plek geëet het. Hoekom het julle dit nie daar geëet nie? Want dit is hoog-gewyd, en die Here het dit vir julle gegee om die sonde van die volk weg te neem en om vir hulle versoening te doen voor die Here.

18. Iemand het nie die bloed van daardie bok ingeneem in die tempel-tent nie. Julle moes dit geëet het in die gewyde plek, soos ek gesê het.”

19. Aäron het vir Moses gesê: “Kyk, hulle het vandag hulle sonde-offer en hulle brand-offer vir die Here gebring, maar jy weet wat vandag met my gebeur het. Dink jy die Here sou tevrede gewees het as ek vandag die sonde-offer geëet het? Nee!”

20. Moses was tevrede toe hy dit hoor.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 10