Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 4:4-21 Bybel vir Almal (ABA)

4. Josua het toe die twaalf mans geroep wat hy uit die Israeliete gekies het, een man uit elke stam,

5. en hy het vir hulle gesê: “Julle moet voor die kis van julle God die Here loop na die middel van die Jordaan-rivier, en julle elkeen moet ’n klip optel en op sy skouer sit, een klip vir elke stam van die Israeliete.

6. Die klippe moet vir julle ’n teken wees. Wanneer julle kinders eendag vir julle vra: ‘Wat beteken daardie klippe vir julle?’

7. dan moet julle vir hulle sê: ‘Toe die verbondskis van die Here deur die Jordaan-rivier gegaan het, het die water opgehou om te vloei. Daardie klippe is daar sodat die Israeliete altyd sal onthou wat gebeur het.’ ”

8. Die Israeliete het gedoen wat Josua gesê het. Hulle het twaalf klippe in die Jordaan-rivier opgetel, een klip vir elke stam van die Israeliete. Hulle het die klippe saamgeneem en hulle het dit neergesit op die plek waar hulle die nag geslaap het. Die Here het vir Josua gesê hulle moet dit doen.

9. Josua het twaalf klippe regop gesit in die Jordaan-rivier op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondskis gedra het. Die klippe is nou nog daar.

10. Die priesters wat die kis gedra het, het in die Jordaan-rivier bly staan totdat alles gebeur het wat die Here vir Josua gesê het. Josua moes vir die Israeliete alles sê wat Moses vir hom gesê het om te doen. Die Israeliete was haastig, hulle het vinnig oor die rivier gegaan.

11. Toe hulle klaar oorgegaan het, het die priesters die verbondskis van die Here ook oorgedra, en hulle het voor die volk geloop.

12. Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het voor die Israeliete oorgegaan. Hulle was gereed om oorlog te maak.

13. Daar het omtrent 40 000 manne voor die verbondskis oorgegaan na die Jordaan-vallei naby die stad Jerigo.

14. Die Here het daardie dag vir Josua ’n belangrike man laat word. Al die Israeliete het gedink Josua is ’n belangrike man, hulle het hom gerespekteer so lank soos hy gelewe het, soos hulle ook vir Moses gerespekteer het.

15. Die Here het vir Josua gesê:

16. “Sê vir die priesters hulle moet uitkom uit die Jordaan-rivier.”

17. Josua het toe vir die priesters gesê hulle moet uitkom.

18. Die priesters wat die verbondskis van die Here gedra het, het uit die Jordaan-rivier gekom, en toe hulle voete aan die kant van die rivier raak, het die water van die rivier weer begin vloei, soos voorheen. Die rivier het oor sy walle gevloei, soos voorheen.

19. Die Israeliete het uit die Jordaan-rivier gekom op die tiende dag van die eerste maand, en hulle het hulle tente opgeslaan by die plek Gilgal oos van die stad Jerigo.

20. Josua het daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan-rivier geneem het, regop gesit by Gilgal,

21. en hy het vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle kinders eendag vir hulle pa’s vra wat daardie klippe beteken,

Lees volledige hoofstuk Josua 4