Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:6-14 Bybel vir Almal (ABA)

6. Josua het hulle geseën en hy het hulle laat gaan, en hulle het na hulle woonplekke gegaan.

7. Moses het vir die een helfte van die Manasse-stam grond gegee in die land Basan, en Josua het vir die ander helfte van die stam grond gegee by die ander Israeliete wes van die Jordaan-rivier. Josua het hulle laat gaan na hulle woonplekke en hy het hulle geseën.

8. Hy het vir hulle gesê: “Julle mag teruggaan na julle woonplekke met die baie goed, die groot troppe beeste, skape en bokke, die silwer en goud en brons en yster, en die baie klere wat julle van die vyande gevat het. Maar julle moet vir die ander mense in julle stamme ook van daardie goed gee.”

9. Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het toe teruggegaan. Hulle het weggegaan van die ander Israeliete by die stad Silo in die land Kanaän. Hulle het na die land Gilead gegaan, die land wat aan hulle behoort. Die Here het vir Moses gesê hulle moet daardie land vat.

10. Hulle het by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier gekom, dit was in die land Kanaän. Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het daar ’n altaar gebou, ’n groot altaar.

11. Die ander Israeliete het gehoor dat die manne van die twee en ’n halwe stamme ’n altaar gebou het langs die grens van die land Kanaän, by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier. Dit was langs die ander Israeliete se grond.

12. Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering in Silo bymekaargekom om oorlog te gaan maak teen die twee en ’n halwe stamme.

13. Maar die Israeliete het eers vir Pinehas seun van die priester Eleasar gestuur na die twee en ’n halwe stamme in die land Gilead.

14. Tien leiers het saam met hom gegaan, ’n leier van elke stam. Elke leier was die hoof van ’n groep families van Israel.

Lees volledige hoofstuk Josua 22