Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:20-34 Bybel vir Almal (ABA)

20. Akan seun van Serag was ontrou, hy het van die goed gevat wat aan die Here gewy was, en die Here het nie net vir hóm laat sterf oor sy sonde nie, die Here was kwaad vir ál die Israeliete.”

21. Die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het vir die hoofde van die familie-groepe van Israel gesê:

22. “Die Here is die God van die gode, die Here is die God van die gode! Hy weet, en julle moet ook weet hoekom ons dit gedoen het. Ons het dit nie gedoen omdat ons opstandig wil wees teen die Here of omdat ons ontrou wil wees aan Hom nie. As julle dink dat ons verkeerd gedoen het, dan moet julle ons vandag doodmaak.

23. Die Here self sal ons straf as ons vir ons ’n altaar gebou het om op te hou om die Here te dien en om brand-offers, koring-offers en ete-offers op die altaar te bring.

24. Nee, ons het die altaar gebou omdat ons bekommerd was. Ons het gedink julle kinders sal eendag vir ons kinders sê: ‘Julle behoort nie aan die Here, die God van Israel, nie.

25. Die Here het gesê daar moet ’n grens wees tussen ons en julle, dit is die Jordaan-rivier, julle behoort nie aan die Here nie.’ Dan sal julle kinders miskien ons kinders laat ophou om die Here te dien.

26. Ons het toe gedink ons moet vir ons ’n altaar bou. Ons wil nie daarop brand-offers en ander offers bring nie,

27. die altaar moet ’n getuie wees tussen ons en julle en tussen ons nageslag en julle nageslag. Die altaar moet die getuie wees dat ons sal aanhou om die Here by sy altaar te dien met ons brand-offers, ons ander offers en ons ete-offers. Dan sal julle nageslag nie eendag vir ons nageslag kan sê: ‘Julle behoort nie aan die Here nie.’

28. Ons het gedink as julle nageslag dit eendag vir ons nageslag sê, dan kan ons nageslag sê: ‘Kyk, daar is die altaar wat ons voorvaders gemaak het, dit lyk soos die Here se altaar. Maar ons gebruik nie die altaar om brand-offers en ander offers te offer nie, die altaar is die getuie tussen ons en julle.’

29. Ons wil glad nie opstandig wees teen die Here nie, en ons wil nie ophou om Hom te dien nie. Die altaar van ons God die Here is voor sy tempel-tent, en ons het nie ’n ander altaar gebou vir brand-offers en koring-offers nie.”

30. Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die hoofde van die familie-groepe van Israel, hoor wat sê die mense van Ruben, Gad en Manasse, was hulle tevrede.

31. Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou dat die Here by ons is, want julle was nie ontrou aan die Here toe julle die altaar gebou het nie. Julle het gekeer sodat die Here nie die Israeliete straf nie.”

32. Pinehas seun van die priester Eleasar en die leiers het weggegaan van die stamme in die land Gilead. Hulle het na die ander Israeliete toe gegaan en hulle het vir die ander Israeliete gesê wat hulle gehoor het.

33. Die Israeliete was toe tevrede en hulle het God geprys. Hulle het besluit om nie oorlog te maak teen daardie stamme nie en om nie die land te verwoes waar hulle woon nie.

34. Die mense van Ruben en Gad het vir die altaar ’n naam gegee en gesê: “Die altaar is die getuie tussen ons, dit sê die Here is God.”

Lees volledige hoofstuk Josua 22