Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:10-21 Bybel vir Almal (ABA)

10. Hulle het by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier gekom, dit was in die land Kanaän. Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het daar ’n altaar gebou, ’n groot altaar.

11. Die ander Israeliete het gehoor dat die manne van die twee en ’n halwe stamme ’n altaar gebou het langs die grens van die land Kanaän, by die stad Gelilot naby die Jordaan-rivier. Dit was langs die ander Israeliete se grond.

12. Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering in Silo bymekaargekom om oorlog te gaan maak teen die twee en ’n halwe stamme.

13. Maar die Israeliete het eers vir Pinehas seun van die priester Eleasar gestuur na die twee en ’n halwe stamme in die land Gilead.

14. Tien leiers het saam met hom gegaan, ’n leier van elke stam. Elke leier was die hoof van ’n groep families van Israel.

15. Toe hulle by die twee en ’n halwe stamme in die land Gilead kom, het hulle vir daardie stamme gesê:

16. “Die volksvergadering van die Here vra: Hoekom is julle ontrou aan die God van Israel? Julle het opgehou om die Here te dien toe julle vir julle ’n altaar gebou het. Julle is nou opstandig teen die Here.

17. Ons het voorheen by die stad Peor groot sonde gedoen en die Here het die volk swaar gestraf, maar tot nou toe het ons nog nie weer rein geword nie.

18. As julle vandag ophou om die Here te dien en as julle opstandig is teen Hom, dan sal Hy môre kwaad wees vir ál die Israeliete.

19. As die land wat aan julle behoort, onrein is, dan moet julle kom na die land wat aan die Here self behoort, die land waar sy tempel-tent is, en julle moet vir julle grond vat tussen ons. Maar julle moenie opstandig wees teen die Here en teen ons nie. Julle moenie vir julle ’n eie altaar bou wat nie die altaar van ons God die Here is nie.

20. Akan seun van Serag was ontrou, hy het van die goed gevat wat aan die Here gewy was, en die Here het nie net vir hóm laat sterf oor sy sonde nie, die Here was kwaad vir ál die Israeliete.”

21. Die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het vir die hoofde van die familie-groepe van Israel gesê:

Lees volledige hoofstuk Josua 22