Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:13-25 Bybel vir Almal (ABA)

13. Miga het vir hulle alles vertel wat hy gehoor het toe Baruk vir die mense gelees het wat hy op die boekrol geskryf het.

14. Toe stuur die amptenare vir Jehudi seun van Netanja seun van Selemja seun van Kusi na Baruk toe om vir hom te sê: “Neem die boekrol waaruit jy vir die mense gelees het, en kom hiernatoe.”Baruk seun van Nerija het die boekrol geneem en hy het na hulle toe gekom.

15. Hulle het vir hom gesê: “Sit asseblief en lees dit vir ons.”

16. En toe hulle alles hoor, het hulle geskrik en hulle het vir mekaar en vir Baruk gesê: “Ons móét vir die koning sê wat jy hier geskryf het, dit is seker.”

17. Hulle het vir Baruk gevra: “Sê asseblief vir ons hoe het jy geweet wat jy alles moet skryf? Het Jeremia dit vir jou gesê?”

18. Baruk het vir hulle gesê: “Ek het die woorde geskryf wat Jeremia vir my gesê het. Hy het vir my alles gesê en ek het dit geskryf in die boekrol wat hy vir my gegee het.”

19. Die amptenare het vir Baruk gesê: “Jy en Jeremia moet gaan wegkruip. Niemand mag weet waar julle is nie.”

20. Die amptenare het na die koning toe gegaan, hy was in die binneplaas. Hulle het die boekrol in die kamer van die sekretaris Elisama laat bly. Hulle het vir die koning gesê wat Baruk in die boekrol geskryf het.

21. Die koning stuur toe vir Jehudi om die boekrol te gaan haal. Jehudi het die boekrol gebring uit die kamer van die sekretaris Elisama en hy het dit gelees vir die koning en vir al die amptenare by die koning.

22. Die koning het in die winterkamer gesit. Daar was ’n vuur in die kaggel. Dit was in die negende maand.

23. Elke maal nadat Jehudi drie of vier stukke klaar gelees het, het die koning dit afgesny met ’n skrywersmes en dan het hy dit in die vuur gegooi wat in die kaggel gebrand het. Hy het aangehou totdat die hele boekrol verbrand was.

24. Die koning en al sy amptenare het nie bang geword toe hulle alles gehoor het nie, hulle het nie hulle klere geskeur nie.

25. Net Elnatan en Delaja en Gemarja het aangehou om vir die koning te sê hy moenie die boekrol verbrand nie, maar hy het nie na hulle geluister nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36