Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Dit was in die vierde jaar nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het. Jeremia het gehoor die Here praat en sê vir hom:

2. “Jy moet ’n boekrol neem en jy moet alles daarop skryf wat Ek vir jou oor Israel en Juda gesê het, van die tyd toe Josia koning was, tot nou toe.

3. Miskien sal die mense van Juda ophou om verkeerde dinge te doen wanneer hulle hoor van al die slegte dinge wat Ek aan hulle wil doen. Dan kan Ek hulle sondes vergewe.”

4. Jeremia het vir Baruk seun van Nerija geroep, en Baruk het alles op die boekrol geskryf wat die Here gesê het. Hy het geskryf wat Jeremia vir hom gesê het.

5. Jeremia het vir Baruk gesê: “Ek is in die tronk, ek kan nie na die tempel gaan nie.

6. Jy moet gaan en jy moet vir die mense alles gaan lees wat jy op die boekrol geskryf het, alles wat ek vir jou gesê het wat die Here gesê het. Jy moet dit op die vasdag lees in die tempel waar die mense jou kan hoor, ook al die mense wat uit die stede van Juda gekom het.

7. Miskien sal hulle vir die Here soebat dat Hy genadig moet wees en miskien sal hulle ophou om verkeerde dinge te doen, want die Here is baie kwaad vir hierdie mense. Hy het gesê Hy sal hulle straf.”

8. Baruk seun van Nerija het alles gedoen wat die profeet Jeremia vir hom gesê het. Baruk het in die tempel alles gelees wat hy op die boekrol geskryf het, alles wat die Here gesê het.

9. Dit was die vyfde jaar nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het, in die negende maand. Al die mense in Jerusalem en almal wat uit die stede van Juda gekom het, het by die tempel bymekaargekom om ’n vasdag te hou.

10. Baruk het alles gelees wat hy op die boekrol geskryf het, alles wat Jeremia gesê het. Dit was in die kamer van Gemarja seun van Safan, by die boonste oop stuk grond waar die mense deur die nuwe poort na die tempel gaan. Al die mense het dit gehoor.

11. Miga seun van Gemarja seun van Safan het alles gehoor wat Baruk uit die boekrol gelees het, alles wat die Here gesê het.

12. Miga het na die paleis gegaan, na die kamer van die sekretaris van die koning. Al die amptenare het daar gesit. Hulle was die sekretaris Elisama, Delaja seun van Semaja, Elnatan, Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja, en al die ander amptenare.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36