Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 8:13-25 Bybel vir Almal (ABA)

13. Van die Adonikam-familie het Elifelet, Jeïel en Semaja laaste gekom, en saam met hulle was daar 60 mans en seuns.

14. Van die Bigwai-familie was daar Utai en Sabud, en saam met hulle 70 mans en seuns.

15. Ek het hulle laat bymekaarkom by die rivier wat na die stad Ahawa vloei. Ons het daar drie dae lank in tente gebly, en toe ek kyk wie van die volk en die priesters daar was, het ek gesien daar is nie Leviete nie.

16. Toe het ek die hoofde gestuur. Hulle was Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam, en die onderwysers Jojarib en Elnatan.

17. Ek het hulle gestuur om vir Iddo ’n boodskap te bring. Hy was die leier in die stad Kasifja, ’n plek waar Leviete en tempel-slawe gewoon het. Ek het vir hulle gesê wat hulle moet sê vir Iddo en die ander tempel-slawe in Kasifja. Hulle moes vir hom vra om vir ons werkers te stuur vir die tempel van ons God.

18. Ons God was goed vir ons, want hulle het vir ons ’n verstandige man gestuur van die familie van Magli seun van Levi seun van Jakob. Die man was Serebja, en hulle het ook 18 van sy seuns en broers gestuur,

19. en ook vir Gasabja. Saam met hom was Jesaja van die Merari-familie, en 20 van sy broers en seuns.

20. Daar was ook 220 mans en seuns van die families van die tempel-slawe wat Dawid en die amptenare gegee het om vir die Leviete te werk. Hulle name is almal in die lys van die families se name geskryf.

21. Ek het daar by die Ahawa-rivier gesê dat ons moet vas, want ons moet ons voor God verneder en bid dat Hy dit goed sal laat gaan met ons en ons families en alles wat ons het.

22. Ek was skaam om vir die koning ’n leër en manne op perde te vra om ons te beskerm teen vyande op die pad. Ons het vir die koning gesê: “Ons God is goed vir almal wat Hom dien, maar Hy word kwaad vir almal wat weggaan van Hom, en Hy straf hulle.”

23. Daarom het ons gevas en gebid dat ons God ons moet beskerm, en Hy hét dit gedoen.

24. Ek het twaalf priesterleiers geroep. Dit was Serebja en Gasabja en tien ander leiers.

25. Ek het die silwer en die goud en die ander goed vir hulle geweeg. Dit was die presente wat die koning en sy raadgewers en sy amptenare en al die Israeliete wat daar was, vir die tempel van ons God gegee het.

Lees volledige hoofstuk Esra 8