Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 39:5-18 Bybel vir Almal (ABA)

5. Jy sal in die veld val, want Ek het dit gesê.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

6. “Ek sal die land Magog en die lande by die see aan die brand steek. Daardie mense dink hulle is veilig, maar hulle sal weet dat Ek die Here is.

7. Ek sal vir my volk Israel wys dat Ek die heilige God is. Ek sal my heilige Naam nie weer laat ontwy nie. Die ander volke sal weet dat Ek die Here is, die Heilige God van Israel.

8. Luister, dit kom, dit sal gebeur, dit is die dag waarvan Ek gepraat het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

9. “Die mense wat in die stede van Israel woon, sal uitgaan. Hulle sal vuurmaak en die wapens verbrand: die skilde, die pyl en boë, die stokke en die spiese. Hulle sal sewe jaar lank vuurmaak met al die wapens.

10. Hulle sal nie hout in die veld gaan haal of bome afkap in die bos nie, want hulle sal vuurmaak met die wapens. Hulle sal die goed terugvat wat die vyande voorheen gevat het, hulle sal alles terugvat wat die vyande wou wegvat.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

11. “Daardie dag sal Ek vir Gog ’n plek in die land Israel gee. Sy graf sal daar wees. Dit sal in die vallei oos van die Dooie See wees. Die mense wat deur die land wil gaan, kom daar verby. Maar wanneer die graf daar is, dan sal die mense nie meer daar kan verbygaan nie. Hulle sal die plek noem ‘Die vallei van Gog se soldate.’

12. Die volk Israel sal sewe maande lank die dooie mense begrawe. Hulle sal dit doen om die land te reinig.

13. Al die mense van die land sal die dooie mense begrawe, en wanneer Ek wys dat Ek die Koning is, dan sal almal die mense van hierdie land respekteer.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

14. “Die mense van die land sal manne kies en aanstel om weer en weer deur die land te gaan en die dooie mense te begrawe, die mense wat nog nie begrawe is nie. Dan sal die land weer rein word. Ná sewe maande sal hulle weer dooie mense soek in die land,

15. hulle sal deur die land gaan en wanneer hulle ’n been van ’n dooie mens sien, sal hulle ’n paar klippe daar opmekaar sit. Die manne wat die bene moet begrawe, sal dit sien en hulle sal dit gaan begrawe in die vallei van Gog se soldate.

16. Daar sal later ook ’n stad wees wat daardie naam het. So sal die land weer rein word.”

17. “En jy, mens, die Here, Hy wat Here is, sê vir jou: Jy moet vir die voëls, vir alles wat vlieg, en vir al die wilde diere sê: Julle moet bymekaarkom. Julle moet van al die kante kom en julle moet rondom my fees-ete kom staan. Ek het vir julle die ete gereedgemaak, ’n groot ete op die berge van Israel. Julle moet vleis kom eet en bloed kom drink.

18. Julle sal die vleis van belangrike mense eet en julle sal die bloed drink van mense wat regeer op die aarde. Hulle is almal soos die skaap-ramme en die lammers en die bok-ramme en die bulle wat vet geword het in die land Basan.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 39