Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 39:11-22 Bybel vir Almal (ABA)

11. “Daardie dag sal Ek vir Gog ’n plek in die land Israel gee. Sy graf sal daar wees. Dit sal in die vallei oos van die Dooie See wees. Die mense wat deur die land wil gaan, kom daar verby. Maar wanneer die graf daar is, dan sal die mense nie meer daar kan verbygaan nie. Hulle sal die plek noem ‘Die vallei van Gog se soldate.’

12. Die volk Israel sal sewe maande lank die dooie mense begrawe. Hulle sal dit doen om die land te reinig.

13. Al die mense van die land sal die dooie mense begrawe, en wanneer Ek wys dat Ek die Koning is, dan sal almal die mense van hierdie land respekteer.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

14. “Die mense van die land sal manne kies en aanstel om weer en weer deur die land te gaan en die dooie mense te begrawe, die mense wat nog nie begrawe is nie. Dan sal die land weer rein word. Ná sewe maande sal hulle weer dooie mense soek in die land,

15. hulle sal deur die land gaan en wanneer hulle ’n been van ’n dooie mens sien, sal hulle ’n paar klippe daar opmekaar sit. Die manne wat die bene moet begrawe, sal dit sien en hulle sal dit gaan begrawe in die vallei van Gog se soldate.

16. Daar sal later ook ’n stad wees wat daardie naam het. So sal die land weer rein word.”

17. “En jy, mens, die Here, Hy wat Here is, sê vir jou: Jy moet vir die voëls, vir alles wat vlieg, en vir al die wilde diere sê: Julle moet bymekaarkom. Julle moet van al die kante kom en julle moet rondom my fees-ete kom staan. Ek het vir julle die ete gereedgemaak, ’n groot ete op die berge van Israel. Julle moet vleis kom eet en bloed kom drink.

18. Julle sal die vleis van belangrike mense eet en julle sal die bloed drink van mense wat regeer op die aarde. Hulle is almal soos die skaap-ramme en die lammers en die bok-ramme en die bulle wat vet geword het in die land Basan.

19. Julle sal vet eet, meer as genoeg, en julle sal bloed drink totdat julle dronk is by die fees-ete wat Ek vir julle sal gereedmaak.

20. Julle sal meer as genoeg eet by die ete wat Ek gee. Julle sal die perde en die manne van die oorlogkarre eet, ook die soldate en almal wat oorlog gemaak het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

21. “Ek sal vir die volke wys dat Ek die Koning is. Al die volke sal sien dat Ek die vyande gestraf het, hulle sal sien dat Ek my hand op hulle gesit het.

22. En die volk Israel sal weet dat Ek hulle God die Here is, van daardie dag af, vir altyd.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 39