Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 34:18-31 Bybel vir Almal (ABA)

18. “Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brood vier. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet soos Ek vir julle gesê het. Julle moet altyd hierdie fees vier op dieselfde dag van die maand Abib, want in die maand Abib het julle weggegaan uit Egipte.”

19. “Elke oudste seun wat gebore word, behoort aan My, en ook die oudste bul-kalwers en ram-lammers.

20. Maar ’n donkie se eerste hings-vul moet julle loskoop. Julle moet ’n lam gee in die plek van die donkie. As julle nie die donkie-vul loskoop nie, dan moet julle sy nek breek. Julle moet al julle oudste seuns loskoop.”“Julle moet altyd ’n offer saambring wanneer julle na die tempel kom.

21. “Julle moet ses dae lank werk, maar op die sewende dag moet julle rus. Julle moet op hierdie dag rus, ook wanneer dit tyd is om te ploeg of te oes.

22. “Julle moet die Fees van die Weke vier. Julle moet ’n fees vier wanneer julle die ryp koring begin afsny, en julle moet ’n fees vier aan die einde van die jaar, wanneer julle klaar gewerk het en alles op die lande afgesny het.

23. Al die mans moet elke jaar drie maal na My toe kom om My te aanbid. Ek is die Here, die God van die Israeliete.

24. “Ek sal die ander volke voor julle wegjaag en Ek sal vir julle baie grond gee waar julle kan woon. Niemand sal probeer om julle grond te vat wanneer julle elke jaar drie maal gaan om julle God die Here te aanbid nie.

25. “Wanneer julle ’n dier slag om vir My te offer, dan moet julle nie die bloed bring by iets wat suurdeeg in het nie. Julle moet die Paasfees-offer op-eet. Moenie dit los tot die volgende oggend nie.

26. “Julle moet die beste van die eerste vrugte wat julle afpluk, bring na die huis van julle God die Here.“Julle mag nie ’n bok-lam in sy ma se melk kook nie.”

27. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet hierdie woorde neerskryf, want Ek het dit vir jou gesê toe Ek ’n verbond gemaak het met jou en met die Israeliete.”

28. Moses was 40 dae en 40 nagte by die Here op die berg. Hy het nie geëet of gedrink nie. Die Here het op die plat klippe die woorde van die verbond geskryf. Dit was die tien gebooie.

29. Moses het afgekom van Sinai-berg. Hy het die twee plat klippe in sy hande gedra. Die tien gebooie was op die klippe. Moses se gesig het geblink omdat God met hom gepraat het, maar Moses het dit nie geweet nie.

30. Aäron en al die Israeliete het gesien dat Moses se gesig blink, en hulle was bang om naby hom te kom.

31. Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die leiers van die volk het na hom toe gekom. Moses het met hulle gepraat.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 34