Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 31:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Julle moet die volk laat bymekaarkom, die mans, die vroue en die kinders, en ook die vreemdelinge wat in julle stede is, sodat hulle kan hoor en kan leer en sodat hulle ook julle God die Here kan eer en alles kan doen wat hierdie wette sê.

13. Hulle kinders wat nie die wette ken nie, moet dit hoor en hulle moet leer om julle God die Here altyd te eer, so lank soos julle sal lewe in die land oorkant die Jordaan-rivier, die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.”

14. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet luister, jou tyd om te sterf is naby. Roep vir Josua en kom staan in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, sodat Ek vir Josua kan sê wat hy moet doen.”Moses en Josua het toe voor die tent gaan staan waar die Here aan die Israeliete verskyn.

15. Die Here het by die tent verskyn in ’n wolk. Die wolk het gaan staan by die ingang van die tent.

16. Die Here het vir Moses gesê: “Jy sal sterf, en dan sal hierdie volk begin om ontrou te wees. Hulle sal die gode van die ander volke dien in die land waarnatoe hulle gaan. Die volk sal My los en hulle sal my verbond breek wat Ek met hulle gemaak het.

17. Ek sal dan baie kwaad word vir hulle. Ek sal hulle los en Ek sal hulle nie wil sien nie. Dan sal dit sleg begin gaan met hulle, hulle sal baie swaar begin kry. En dan sal hulle sê: ‘Dit gaan sleg met ons omdat ons God nie by ons is nie.’

18. Maar Ek sal hulle glad nie wil sien nie omdat hulle verkeerd gedoen het, omdat hulle ander gode begin dien het.

19. Daarom moet jy hierdie lied neerskryf en jy moet dit vir die Israeliete leer. Hulle moet die lied ken, sodat die lied vir My ’n getuie sal wees teen hulle.

20. Want Ek het hulle gebring na die land wat Ek vir hulle voorvaders belowe het, ’n land waar daar baie melk en heuning is. Hulle sal genoeg eet en vet word en hulle sal ander gode begin dien. Hulle sal dink Ek is nie belangrik nie en hulle sal my verbond breek.

21. Wanneer dit dan baie sleg gaan met hulle, dan sal hierdie lied die getuie wees teen hulle, want hulle nageslag sal die lied onthou. Ja, Ek het die Israeliete nog nie gebring na die land wat Ek vir hulle belowe het nie, maar Ek weet wat hulle vandag dink.”

22. Moses het daardie dag die lied neergeskryf en hy het dit vir die Israeliete geleer.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 31