Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 12:11-26 Bybel vir Almal (ABA)

11. Dan sal julle God die Here ’n plek kies waar julle Hom moet aanbid. Julle moet alles na daardie plek bring, alles wat ek vir julle sê: julle brand-offers en ander offers, julle tiendes en julle presente, en die beste dinge wat julle vir die Here belowe het.

12. Die Here sal daar by julle wees, en dan moet julle feesvier, julle en julle kinders, julle slawe en slavinne, en ook die Leviete wat by julle woon, want hulle het nie hulle eie grond soos julle nie.

13. “Julle moet versigtig wees dat julle nie julle brand-offers bring op enige plek wat julle sien nie.

14. Julle mag julle brand-offers bring net op die plek wat die Here sal kies in die land van een van die stamme, en daar moet julle alles doen wat ek vir julle sê.

15. “Maar wanneer julle honger is, dan mag julle van die diere slag wat die Here vir julle gegee het toe Hy julle geseën het oral waar julle woon. Mense wat rein is én mense wat onrein is, mag van die vleis eet soos hulle die vleis eet van ’n gasel of ’n takbok.

16. Maar julle mag nie bloed eet nie, julle moet die bloed uitgooi op die grond soos ’n mens water uitgooi.

17. Julle mag ook nie by julle woonplekke die tiendes eet van julle koring, wyn en olyf-olie nie, ook nie die eerste kalwers en lammers, of die offers wat julle vir die Here belowe het, of die offers wat julle self wil bring, of die presente wat julle gee nie.

18. Julle moet dit gaan eet op die plek wat julle God die Here sal kies, julle moet dit doen saam met julle kinders, julle slawe en slavinne, en die Leviete wat by julle woon. Julle God die Here sal by julle wees. Julle moet daar feesvier met alles waarvoor julle gewerk het.

19. Julle moet onthou dat julle nooit die Leviete mag vergeet nie, so lank soos julle in die land lewe.

20. “Julle God die Here het belowe dat Hy julle land groter sal maak. Wanneer Hy dit doen, en julle wil vleis eet omdat julle honger is, dan mag julle enige tyd vleis eet.

21. Miskien is die plek ver van julle, die plek wat julle God die Here gekies het waar julle Hom moet aanbid. Dan mag julle van julle beeste of skape of bokke slag, maar julle moet dit doen soos ek vir julle gesê het. En dan mag julle daar by julle woonplekke die vleis eet wanneer julle wil.

22. Ja, julle mag hierdie vleis eet soos ’n mens die vleis van ’n gasel of ’n takbok eet. Mense wat rein is én mense wat onrein is, mag saam van die vleis eet.

23. Maar julle moet seker maak dat julle nie bloed eet nie, want die lewe is in die bloed, en julle mag nie die lewe eet saam met die vleis nie.

24. Julle moenie bloed eet nie, julle moet dit op die grond uitgooi soos ’n mens water uitgooi.

25. Julle moenie bloed eet nie, dan doen julle wat die Here wil hê, en dan sal dit goed gaan met julle en met julle kinders ná julle.

26. “Maar julle moet die gewyde presente wat julle wil gee en die offers wat julle belowe het, bring na die plek wat die Here sal kies.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 12