Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11:25-41 Bybel vir Almal (ABA)

25. “Dan sal hy baie soldate bring om oorlog te maak teen die koning van die suide, en die koning van die suide sal gereedmaak om oorlog te maak. Die koning van die suide sal baie en sterk soldate bymekaarmaak, maar hy sal die oorlog verloor, want sy eie mense sal planne maak teen hom.

26. Mense in sy eie huis sal hom laat verloor. Sy soldate sal vlug, en baie soldate sal sterf.

27. Die twee konings sal saam eet, maar hulle sal vir mekaar lieg en hulle sal slegte planne maak teen mekaar. Hulle sal nie kan doen wat hulle wil doen nie, want God het besluit hulle sal nie meer konings wees nie.

28. “Die koning van die noorde sal teruggaan na sy land en hy sal baie goed saamvat. Hy sal slegte dinge doen aan die gewyde mense. Dan sal hy teruggaan na sy land. God het ’n verbond gemaak met die gewyde mense.

29. “Wanneer God besluit het dit is die regte tyd, dan sal die koning van die noorde weer na die suide kom, maar dit sal nie wees soos voorheen nie.

30. Die Romeine sal met skepe kom om oorlog te maak teen die koning van die noorde, en hy sal skrik en teruggaan na sy land. Maar eers sal hy weer slegte dinge doen aan die gewyde mense, God het ’n verbond gemaak met die gewyde mense. Hy sal vriendelik wees met die mense wat ontrou is aan God se verbond.

31. Hy sal soldate stuur, en hulle sal die tempel ontwy. Hy sal sê die priesters mag nie meer elke dag offer nie. Hy sal iets in die tempel neersit wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes.

32. Die koning sal baie vriendelik wees met die mense wat verkeerd doen teen die verbond, maar die mense wat vir God ken, sal aanhou om nie verkeerde dinge te doen nie.

33. Die verstandige leiers van die volk sal baie mense help om te verstaan wat gebeur, maar die koning sal party van die leiers laat doodmaak en verbrand. Hy sal ook party leiers wegvat na sy land toe.

34. Min mense sal die leiers help, en baie mense sal maak of hulle saam met die leiers werk, maar hulle sal vals wees.

35. Party van die verstandige leiers sal swaarkry sodat hulle beter mense kan word en reg kan wees op die dag wanneer die tyd verby sal wees. God het besluit wanneer dit sal wees.

36. “Die koning sal doen wat hy wil. Hy sal dink hy is belangriker as ’n god, en hy sal ook lelik praat van God, die enigste God. Hy sal doen wat hy wil in die tyd wanneer God kwaad is vir sy volk. God het besluit dit moet gebeur, en dit sal gebeur.

37. Die koning sal ander gode dien, nie die gode wat die konings gedien het wat voor hom regeer het nie. Hy sal ook nie die god dien vir wie die vroue lief is nie. Hy sal nie een van daardie gode dien nie.

38. Maar die koning sal ’n god dien wat die konings wat voor hom regeer het, nie geken het nie. Dit is die god van die stede wat sterk mure het. Die koning sal vir hierdie god presente gee, goud en silwer, mooi klip en ander mooi goed.

39. Die koning sal dink hierdie ander god help hom, en die koning sal oorlog maak teen die stede wat sterk mure het. Die koning sal baie goed wees vir almal wat hierdie god dien. Hy sal hulle laat regeer oor baie mense en hy sal vir hulle lande gee.

40. “Later sal die koning van die suide oorlog kom maak teen die koning van die noorde. Maar die koning van die noorde sal oorlogkarre en soldate op perde en skepe bring en hulle sal soos ’n watervloed deur die lande vloei.

41. Hy sal in die pragtige land kom en hy sal baie mense doodmaak. Maar hy sal nie die land Edom vat nie, ook nie die land Moab en die land van die Ammoniete nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 11