Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11:15-33 Bybel vir Almal (ABA)

15. “Die koning van die noorde sal kom en hy sal ’n hoop grond gooi teen die sterk mure om die stad van die koning van die suide. Dan sal sy soldate oor die mure klim en hulle sal in die stad kom. Die koning van die suide en al sy sterk soldate sal nie die koning van die noorde kan keer nie.

16. Die koning van die noorde sal doen wat hy wil. Niemand sal hom keer nie. Hy sal ook die pragtige land vir homself vat en hy sal dit verwoes.

17. Dan sal hy probeer om ’n ooreenkoms te maak met die koning van die suide sodat hy daardie koning se land vir hom kan vat. Die koning van die noorde sal vir die koning van die suide ’n vrou gee sodat sy plan kan slaag. Maar die plan sal nie slaag nie.

18. “Daarna sal die hoogmoedige koning van die noorde oorlog maak teen die mense wat naby die see woon, en hy sal baie mense oorwin. Maar ’n ander leier sal oorlog maak teen die hoogmoedige koning en hy sal die hoogmoedige koning wen en hom verneder.

19. Dan sal die leier teruggaan na sy eie land, na die stede wat sterk mure het. Maar iemand anders sal hom in ’n oorlog wen, en hy sal verdwyn.

20. Ná hom sal ’n ander koning kom. Daardie koning sal iemand stuur om belasting by die ryk mense te vat. Iemand sal die koning doodmaak, maar nie in ’n oorlog nie.”

21. “Daarna sal ’n slegte man koning van die noorde word. Hy sal nie ’n seun van ’n koning wees nie, maar hy sal koning word omdat hy skelm is.

22. Hy sal die leiers doodmaak wat teen hom wil oorlog maak, ook die leier van God se volk.

23. Hierdie slegte man is die leier van min mense, maar hy sal ooreenkomste maak met baie mense en hy sal baie ooreenkomste breek. Daarom sal hy ’n sterk leier word.

24. “Hy sal kom in ’n land waar daar baie ryk mense is, niemand sal hom kan keer nie. Hy sal doen wat die konings voor hom nie gedoen het nie. Hy sal al die goed wat hy daar vat, vir sy mense gee. Hy sal slim planne maak om oorlog te maak teen die stede wat sterk mure het. Maar hy sal dit nie lank doen nie.

25. “Dan sal hy baie soldate bring om oorlog te maak teen die koning van die suide, en die koning van die suide sal gereedmaak om oorlog te maak. Die koning van die suide sal baie en sterk soldate bymekaarmaak, maar hy sal die oorlog verloor, want sy eie mense sal planne maak teen hom.

26. Mense in sy eie huis sal hom laat verloor. Sy soldate sal vlug, en baie soldate sal sterf.

27. Die twee konings sal saam eet, maar hulle sal vir mekaar lieg en hulle sal slegte planne maak teen mekaar. Hulle sal nie kan doen wat hulle wil doen nie, want God het besluit hulle sal nie meer konings wees nie.

28. “Die koning van die noorde sal teruggaan na sy land en hy sal baie goed saamvat. Hy sal slegte dinge doen aan die gewyde mense. Dan sal hy teruggaan na sy land. God het ’n verbond gemaak met die gewyde mense.

29. “Wanneer God besluit het dit is die regte tyd, dan sal die koning van die noorde weer na die suide kom, maar dit sal nie wees soos voorheen nie.

30. Die Romeine sal met skepe kom om oorlog te maak teen die koning van die noorde, en hy sal skrik en teruggaan na sy land. Maar eers sal hy weer slegte dinge doen aan die gewyde mense, God het ’n verbond gemaak met die gewyde mense. Hy sal vriendelik wees met die mense wat ontrou is aan God se verbond.

31. Hy sal soldate stuur, en hulle sal die tempel ontwy. Hy sal sê die priesters mag nie meer elke dag offer nie. Hy sal iets in die tempel neersit wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes.

32. Die koning sal baie vriendelik wees met die mense wat verkeerd doen teen die verbond, maar die mense wat vir God ken, sal aanhou om nie verkeerde dinge te doen nie.

33. Die verstandige leiers van die volk sal baie mense help om te verstaan wat gebeur, maar die koning sal party van die leiers laat doodmaak en verbrand. Hy sal ook party leiers wegvat na sy land toe.

Lees volledige hoofstuk Daniël 11