Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 5:4-14 Bybel vir Almal (ABA)

4. Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 40 jaar lank koning.

5. In Hebron het hy sewe jaar en ses maande regeer oor die Juda-stam en in Jerusalem het hy 33 jaar regeer oor die hele Israel en oor die Juda-stam.

6. Toe die koning en sy manne by Jerusalem gekom het, het die Jebusiete wat daar gewoon het, vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier kan inkom nie. Mense wat swak is, sal jou kan keer, jy sal nie hier inkom nie, ja, mense wat nie kan sien nie en wat nie kan loop nie, sal jou keer.”Hulle het gedink Dawid sal nie in die stad kan inkom nie,

7. maar Dawid het die stad Sion wat sterk mure gehad het, oorwin, dit is nou die Dawidstad.

8. Dawid het daardie dag gesê: “As iemand die Jebusiete wil oorwin, dan sal hy deur die watertonnel moet gaan om by hulle te kom, by die mense wat nie kan sien of kan loop nie. Ek haat hierdie mense.”Dit is hoekom hulle sê mense wat nie kan sien of kan loop nie, mag nie in die tempel kom nie.

9. Dawid het gaan woon in die stad wat sterk mure het en hy het dit die Dawidstad genoem. Hy self het geboue gebou, van die terrasse tot teen sy paleis.

10. Dawid het ’n belangrike koning geword. Die Here, die God wat oor alles regeer, was by hom.

11. Koning Hiram van die stad Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout gestuur en ambagsmanne wat met hout en klip kon werk, en hulle het vir Dawid ’n paleis gebou.

12. Dawid het besef dat die Here vir hom koning oor Israel gemaak het. Hy het besef dat die Here lief is vir sy volk Israel en dat Hy daarom vir Dawid ’n belangrike koning laat word het.

13. Nadat Dawid uit Hebron gekom het, het hy met nog vroue en byvroue in Jerusalem getrou, en hulle het vir Dawid nog seuns en dogters gekry.

14. Hier is die name van die kinders van Dawid wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo,

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 5