Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:16-24 Bybel vir Almal (ABA)

16. Toe het Joab die ramshoring geblaas, en die manne het opgehou om die manne van Israel te volg en te jaag, want Joab het sy manne laat terugkom.

17. Hulle het Absalom se liggaam geneem en hulle het dit in ’n groot gat in die bos gegooi. Hulle het ’n baie groot hoop klippe op hom gepak. Al die manne van Israel het gevlug, elkeen na sy huis.

18. Toe Absalom nog gelewe het, het hy vir homself die klip-paal ingeplant in die Koning-vallei sodat mense sy naam sal onthou. Hy het gesê hy doen dit omdat hy nie ’n seun het nie. Mense noem die klip-paal tot vandag toe die gedenksteen van Absalom.

19. Agimaäs seun van Sadok het gesê: “Ek sal hardloop en vir die koning die goeie nuus bring dat die Here hom gered het van sy vyande.”

20. Maar Joab het gesê: “Nee, jy is nie vandag die regte man om goeie nuus te bring nie, jy kan op ’n ander dag goeie nuus bring, maar vandag kan jy nie goeie nuus bring nie, want die koning se seun is dood.”

21. Joab het toe vir die Kussiet gesê: “Gaan vertel jý vir die koning wat jy gesien het.”Die Kussiet het voor Joab gebuig en hy het gegaan.

22. Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gevra: “Dit maak nie saak wat gebeur nie, ek wil asseblief ook agter die Kussiet hardloop.”Joab het geantwoord: “Seun, hoekom wil jy ook hardloop? Jy sal nie ook die boodskapper se beloning kry nie.”

23. Maar Agimaäs het gesê: “Dit maak nie saak nie, ek wil hardloop.”Joab sê toe: “Goed, jy mag hardloop.”Agimaäs het op die pad langs die Jordaan-rivier gehardloop, en hy het by die Kussiet verbygegaan.

24. Die koning het binne-in die poort tussen die voorste en die agterste deure gesit. Die wag het op die dak van die poort geklim, en toe hy kyk, sien hy daar kom ’n man wat alleen hardloop.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18