Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:12-24 Bybel vir Almal (ABA)

12. Ons sal die koning kry waar hy is en ons sal so skielik by hom kom soos die dou wat op die grond val. Hy en nie een van die manne by hom sal aanhou lewe nie.

13. Of as hy in ’n stad gaan woon het, dan sal al die manne van Israel toue om daardie stad vasmaak en hulle sal die stad wegsleep tot in die vallei. Daar sal nie een klip oorbly nie.”

14. Absalom en al die manne van Israel het gesê Gusai se plan is beter as Agitofel se plan. Maar dit was die Here wat dit so laat gebeur het. Hy het dit besluit sodat die goeie plan van Agitofel nie kon slaag nie. Die Here het dit gedoen omdat Hy dit sleg wou laat gaan met Absalom.

15. Gusai het vir die priesters Sadok en Abjatar gaan vertel van die plan wat Agitofel vir Absalom en die leiers van Israel gegee het. Gusai het ook vir hulle vertel wat sy eie plan was.

16. Gusai het gesê Sadok en Abjatar moet vinnig vir Dawid ’n boodskap stuur en vir hom sê: “Jy moenie vannag by die Jordaan-driwwe slaap nie, jy moet deur die rivier gaan. As jy dit nie doen nie, dan sal Absalom se mense jou daar kry en hulle sal jou en die mense by jou almal doodmaak.”

17. Jonatan en Agimaäs het by Rogel-fontein gewag, want hulle was bang dat die mense hulle in Jerusalem sal sien. ’n Slavin het vir hulle die boodskap gebring wat hulle vir koning Dawid moes bring.

18. Maar ’n jongman het hulle gesien en hy het vir Absalom gaan vertel. Jonatan en Agimaäs het vinnig na ’n man se huis in die stad Bagurim gegaan. Daar was ’n put in die man se tuin, en hulle het in die put geklim.

19. Die vrou het ’n doek styf oor die put getrek en sy het koringkorrels daaroor gegooi sodat niemand die put kon sien nie.

20. Toe Absalom se manne by die vrou by haar huis kom, vra hulle vir haar waar Agimaäs en Jonatan is. Die vrou sê toe vir hulle: “Hulle het verbygegaan na die water.”Die manne het vir Agimaäs en Jonatan gaan soek, maar die manne kon hulle nie kry nie, en toe het die manne teruggegaan na Jerusalem.

21. Nadat hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim en hulle het die boodskap vir koning Dawid gaan gee. Hulle het vir Dawid gesê: “Jy moet gereedmaak en jy moet vinnig deur die water gaan.”Hulle het vir Dawid gesê wat Agitofel se plan was.

22. Dawid en al die mense wat by hom was, het gereedgemaak en hulle het deur die Jordaan-rivier begin gaan. Hulle het aangehou om deur te gaan totdat dit lig geword het. Almal was toe deur die Jordaan-rivier.

23. Toe Agitofel sien Absalom wil nie doen wat hy gesê het nie, het hy sy donkie opgesaal en hy het gereedgemaak en teruggegaan na sy huis in die stad waar hy gewoon het. Hy het vir sy huisgesin gesê wat hulle moet doen, en toe het hy homself opgehang en hy het gesterf. Hulle het hom begrawe in sy pa se graf.

24. Toe Dawid by die stad Maganajim kom, het Absalom deur die Jordaan-rivier gegaan, hy en al die manne van Israel saam met hom.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17