Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:19-32 Bybel vir Almal (ABA)

19. Die koning het weer ’n boodskapper op ’n perd gestuur, en hy het by die manne gekom en gesê: “Die koning vra of daar ’n probleem is.”En Jehu het gesê: “Hoekom vra jy of daar ’n probleem is? Dit maak nie saak nie, draai om en kom saam met my.”

20. Die wag het geskree: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom ook nie terug nie. Dit lyk of dit Jehu is wat op die oorlogkar ry, want hy jaag soos ’n mal mens.”

21. Joram sê toe hulle moet sy oorlogkar inspan. Hulle het dit gedoen, en hy en koning Ahasia van Juda het elkeen op sy eie oorlogkar gery om vir Jehu te gaan ontmoet. Hulle het hom gekry op die grond van Nabot van Jisreël.

22. Toe Joram sien dit is Jehu, vra hy: “Jehu, is daar ’n probleem?”Jehu het geantwoord: “Die probleem is dat jou ma Isebel vir die mense leer om afgode te dien en om te toor.”

23. Joram het omgedraai met sy wa en hy het vir Ahasia geskree: “Hulle het ons verraai!”

24. Maar Jehu het sy boog se snaar styfgetrek en hy het vir Joram bo in sy rug geskiet. Die pyl het deur Joram se hart gegaan en hy het op die wa dood neergeval.

25. Jehu het vir sy offisier Bidkar gesê: “Vat hom en gooi hom op die grond van Nabot van Jisreël. Onthou jy dat ek en jy agter sy pa Agab gery het toe die Here gesê het dit sal gebeur?

26. Die Here het gesê: ‘Ek het gisteraand die bloed van Nabot en sy seuns gesien, en Ek belowe Ek sal jou op hierdie selfde grond daaroor straf.’ ”Jehu sê toe: “Vat hom en gooi hom op die grond, soos die Here gesê het.”

27. Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, het hy weggejaag op die pad na die stad Bet-Gan, maar Jehu het hom gevolg en gejaag en gesê: “Hy moet ook sterf.”Jehu se manne het vir Ahasia geskiet op sy wa toe hy na die stad Gur gery het. Dit is naby die stad Jibleam. Ahasia het na die stad Megiddo gevlug, en hy het daar gesterf.

28. Sy amptenare het hom na Jerusalem gebring en hulle het hom begrawe in sy graf by sy voorvaders in die Dawidstad.

29. Ahasia het koning van Juda geword in die elfde jaar nadat Joram seun van Agab koning geword het.

30. Toe Isebel hoor dat Jehu in die stad Jisreël aangekom het, het sy oogverf aan haar oë gesmeer en sy het haar hare mooi gemaak en voor ’n venster gaan staan.

31. Toe Jehu by die poort kom, het Isebel gesê: “Wat is jou probleem? Jy is soos Simri, jy het ook jou koning vermoor.”

32. Jehu het opgekyk na die venster en gevra: “Wie wil vir my help? Wie?”Twee of drie van die paleiswerkers het by vensters afgekyk na Jehu, en hy het gesê: “Gooi Isebel af!”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9