Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:12-27 Bybel vir Almal (ABA)

12. Hy het die altare laat afbreek wat die konings van Juda laat bou het op die dak van die bo-kamer van Agas en ook die altare wat Manasse laat bou het op die twee oop stukke grond by die tempel. Hy het die altare stukkend laat stamp en hy het die stof in die Kedron-vallei laat gooi.

13. Hy het die offer-plekke ontwy wat Salomo koning van Israel oos van Jerusalem laat bou het. Die offer-plekke was suid van die Olyf-berg. Salomo het die offer-plekke laat bou vir Astarte, Kemos en Milkom, die afgode van die Sidoniërs, die Moabiete en die Ammoniete.

14. Hy het die klip-pale laat afbreek en hy het die gewyde pale laat afkap. Toe het hy mensbene op hulle plekke gegooi.

15. Josia het ook die altaar wat in Bet-El was, laat afbreek. Dit was die offer-plek wat Jerobeam seun van Nebat gebou het. Jerobeam het die mense van Israel daar sonde laat doen. Josia het ook daardie altaar, daardie offer-plek, laat afbreek. Hy het die offer-plek verbrand en fyngeslaan en hy het die gewyde paal verbrand.

16. En toe Josia omdraai, sien hy grafte daar op die berg. Hy het die bene uit die grafte laat haal en hy het dit op die altaar verbrand. So het Josia die altaar ontwy. Dit het gebeur soos die man van God gesê het toe koning Jerobeam by die altaar gestaan het.

17. Josia het ’n grafsteen gesien en hy het gevra wie se graf dit is. Die mense van die stad Bet-El het vir hom gesê: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom het. Die man van God het voorheen gesê hierdie dinge wat jy met die altaar van Bet-El gedoen het, sal gebeur.”

18. Josia het gesê: “Los hom, niemand moet sy bene wegneem nie.”Hulle het toe die bene van die man van God gelos en ook die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het.

19. Josia het ook die tempels op die offer-plekke laat afbreek. Die konings van Israel het voorheen daardie tempels by die stede van Samaria laat bou om die Here kwaad te maak. Josia het dieselfde met die tempels gedoen soos hy by Bet-El gedoen het.

20. Josia het die priesters wat by die offer-plekke was, laat slag op die altare en hy het mensbene op die altare laat verbrand. Toe het hy teruggegaan na Jerusalem.

21. Die koning het vir al die mense gesê: “Julle moet die Paasfees vier vir julle God die Here. Julle moet dit vier soos dit geskryf is in hierdie verbondsboek.”

22. Daar was nie nog so ’n Paasfees nie, van die tyd van die leiers wat oor die Israeliete regeer het, tot nou toe, ook nie in die tyd van die konings van Israel en Juda nie.

23. Maar hierdie Paasfees het hulle vir die Here gevier in Jerusalem in die agtiende jaar nadat Josia koning geword het.

24. Josia het ook die mense laat doodmaak wat gesê het hulle kan praat met die geeste van mense wat gesterf het. Hy het ook die mense laat doodmaak wat gesê het hulle weet wat ander mense nie kan weet nie. Hy het die beeldjies en die afgode in Juda en Jerusalem weggevat, al die lelike goed. Hy het alles gedoen wat geskryf is in die wette in die boek wat Gilkija in die tempel gekry het.

25. Daar was nie nog so ’n koning wat sy lewe so heeltemal verander het nie. Josia het gedoen wat die Here wil hê, soos die Wette van Moses sê. Daar was nie so ’n koning vóór die tyd van Josia of ná sy tyd nie.

26. Maar die Here het kwaad gebly vir die mense van Juda. Die Here was kwaad oor alles wat Manasse gedoen het.

27. Die Here het gesê: “Ek sal die mense van Juda ook wegvat voor My soos Ek die mense van Israel weggevat het. Ek het hierdie stad Jerusalem gekies, en Ek het gesê Ek sal self in hierdie tempel woon. Maar Ek sal nou hierdie stad en hierdie tempel los.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23