Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 22:9-20 Bybel vir Almal (ABA)

9. Safan het teruggegaan na die koning toe en hy het vir hom gaan sê wat gebeur het. Hy het vir die koning gesê: “Die priesters het die geld uitgehaal wat in die tempel is, en hulle het dit gegee vir die voormanne wat die werk by die tempel moet laat doen.

10. Die hoëpriester Gilkija het hierdie boek vir my gegee.”Safan het die boek vir die koning gelees.

11. Toe die koning hoor wat daar in die boek geskryf is, het hy sy klere geskeur,

12. en hy het gepraat met die hoëpriester Gilkija en met Agikam seun van Safan en met Akbor seun van Miga en met die sekretaris Safan en met Asaja, die hoof-amptenaar van die koning. Hy het vir hulle gesê:

13. “Ek en die volk, al die mense van Juda, stuur julle om te gaan vra wat sê die Here oor die dinge wat geskryf is in hierdie boek wat hulle in die tempel gekry het. Ek dink die Here is baie kwaad vir ons omdat ons voorvaders nie gedoen het wat in hierdie boek oor ons geskryf is nie.”

14. Die priester Gilkija, Agikam, Akbor, Safan en Asaja het toe na die profeet Gulda toe gegaan. Gulda was getroud met Sallum seun van Tikwa seun van Gargas. Gulda se man het die klere in die klerekamer van die paleis opgepas en hulle het gewoon in die nuwe deel van Jerusalem. Gilkija en die ander mans het met haar gepraat,

15. en sy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Julle moet vir die man wat julle gestuur het, gaan sê

16. die Here sê: Ek sal dit sleg laat gaan met hierdie plek en met die mense wat hier woon. Alles sal gebeur wat geskryf is in die boek wat die koning gelees het.

17. Ek sal dit doen omdat hulle weggegaan het van My en omdat hulle wierook gebrand het vir ander gode. Ek het kwaad geword oor al die dinge wat hulle gedoen het. Ek sal hierdie plek straf en Ek sal nie ophou nie.

18-19. Die koning van Juda het vir julle gestuur om te vra wat die Here sê. Julle moet vir die koning gaan sê: Ek, die Here, het gesien dat jy hartseer en ontsteld geword het en dat jy jou voor My verneder het toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek gesê het. Ek het gesê hier sal nie meer mense woon nie en Ek sal die plek laat verwoes. Ek het gesien dat jy jou klere geskeur het en Ek het gehoor hoe jy huil.

20. Daarom sal dit goed gaan met jou totdat Ek jou laat sterf en jy begrawe is. Jy sal nie self sien wanneer Ek dit sleg laat gaan met hierdie plek nie.”Gilkija en die ander mans het vir die koning gaan sê wat die profeet gesê het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 22