Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15:22-37 Bybel vir Almal (ABA)

22. Hy het gesterf, en sy seun Pekahia het koning geword ná hom.

23. Pekahia seun van Menahem het in Samaria koning van Israel geword in die vyftigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Pekahia was twee jaar lank koning.

24. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.

25. Peka seun van Remalja was ’n offisier van koning Pekahia. Peka het planne gemaak teen Pekahia en hy het Pekahia aangeval in Samaria in die toring van die paleis. Argob en Arje en 50 manne van Gilead was saam met Peka. Peka het vir Pekahia doodgemaak en hy het koning geword in Pekahia se plek.

26. Al die ander dinge wat Pekahia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

27. Peka seun van Remalja het in Samaria koning van Israel geword in die twee-en-vyftigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Peka was 20 jaar lank koning.

28. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.

29. In die tyd toe Peka koning van Israel was, het koning Tiglat-Pileser van Assirië na Israel gekom. Hy het die stede Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor oorwin. Hy het die hele land Naftali, die land Galilea en die land Gilead gevat. Hy het die mense gevang en weggevat na Assirië.

30. Hosea seun van Ela het planne gemaak teen Peka seun van Remalja. Hosea het Peka aangeval en doodgemaak en Hosea het koning geword in Peka se plek. Dit was in die twintigste jaar nadat Jotam seun van Ussia koning van Juda geword het.

31. Al die ander dinge wat Peka gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

32. Jotam seun van koning Ussia van Juda het koning geword in die tweede jaar nadat Peka seun van Remalja koning van Israel geword het.

33. Jotam was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 16 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Jerusa dogter van Sadok.

34. Jotam het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy pa Ussia.

35. Maar hy het nie die offer-plekke afgebreek nie. Die mense het nog op die offer-plekke ge-offer en wierook gebrand. Dit is Jotam wat die boonste poort van die tempel laat bou het.

36. Al die ander dinge wat Jotam gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.

37. In die tyd toe Jotam koning was, het die Here begin om vir Resin koning van Aram en vir Peka seun van Remalja te stuur om Juda aan te val.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 15