Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:13-26 Bybel vir Almal (ABA)

13. Wanneer julle by die stad kom, dan sal julle hom kry voordat hy na die offer-plek gaan om saam met die mense te gaan eet. Die mense eet nie voordat hy gekom het nie, want hý moet eers vir die Here dankie sê vir die offer-ete, en daarna eet die gaste. Maar julle moet nou gaan, dan sal julle hom daar kry.”

14. Saul en die slaaf het toe na die stad gegaan, en toe hulle in die stad kom en begin rondkyk, kom Samuel daar aan om op te gaan na die offer-plek.

15. Die dag voordat Saul gekom het, het die Here met Samuel gepraat en vir hom gesê:

16. “Ek sal môre omtrent hierdie tyd ’n man na jou toe stuur uit die land Benjamin. Jy moet hom salf om koning te wees oor my volk Israel, sodat hy my volk kan red van die Filistyne. Want Ek het gesien hoe dit met my volk gaan, en Ek het gehoor toe hulle geskree het en gevra het dat Ek hulle moet help.”

17. Toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir Samuel gesê: “Hier is die man oor wie Ek met jou gepraat het. Dit is hý wat oor my volk sal regeer.”

18. Samuel was in die poort en Saul het na hom toe gegaan. Saul het gevra: “Sê asseblief vir my waar is die siener se huis.”

19. Samuel sê toe vir Saul: “Ek is die siener. Jy moet voor my loop na die offer-plek. Julle moet vandag saam met my eet. Ek sal jou môre-oggend laat gaan, en ek sal dan alles vir jou sê wat jy wil weet.

20. Jy moenie bekommerd wees oor die donkies wat drie dae gelede weggeraak het nie. Die mense het hulle gekry. Maar al die Israeliete wag dat jy en jou familie hulle moet help.”

21. Saul het vir Samuel gesê: “Ek is van die Benjamin-stam, die kleinste van die stamme van Israel, en my familie is minder belangrik as al die ander families in die Benjamin-stam. Hoekom sê jy hierdie dinge vir my?”

22. Samuel het Saul en sy slaaf saamgeneem en hy het hulle in die eetplek gebring. Daar was omtrent 30 gaste, en Samuel het vir Saul en sy slaaf laat sit op die belangrikste plekke.

23. Samuel het vir die kok gesê: “Bring die vleis wat ek gesê het jy moet apart hou.”

24. Die kok het die boud vleis gebring en hy het dit voor Samuel neergesit. Samuel het vir Saul gesê: “Kyk, ons het hierdie vleis apart gehou, ek sit dit voor jou neer. Jy moet dit eet, want ons het dit vir jou gebêre sodat jy dit vandag saam met die gaste kan eet.”Saul het toe daardie dag saam met Samuel geëet.

25. Daarna het hulle van die offer-plek afgegaan na die stad. Samuel het op sy huis se dak met Saul gepraat.

26. Hulle het die volgende dag vroeg opgestaan. Toe dit begin lig word, het Samuel vir Saul op die dak geroep en gesê: “Jy moet opstaan, ek wil jou laat gaan.”Saul het opgestaan, en hy en Samuel het uitgegaan buitetoe.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9