Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 30:14-28 Bybel vir Almal (ABA)

14. Ons het die mense in die Suid-land van die Filistyne aangeval. Ons het hulle goed gevat en ook mense in party stede van Juda en in die Suid-land waar die Kaleb-families woon. Ons het Siklag verbrand.”

15. Dawid vra toe vir die man: “Sal jy my na hierdie Amalekiete toe neem?”Die man het gesê: “Jy moet eers voor die Here belowe dat jy my nie sal doodmaak of dat jy my vir my eienaar sal teruggee nie, dan sal ek jou na hierdie Amalekiete toe neem.”

16. Die man het hulle na die Amalekiete toe geneem. Die Amalekiete was oral besig om fees te vier en te eet en te drink van die baie goed wat hulle gevat het in Filistyne-land en in die land Juda.

17. Dawid het hulle aangeval van vroeg die oggend tot die aand van die volgende dag. Net 400 jongmanne het nie gesterf nie. Hulle het op kamele geklim en gevlug.

18. Dawid het alles teruggekry wat die Amalekiete gevat het, ook sy twee vroue.

19. Niks was weg nie, Dawid het alles teruggebring, kinders en grootmense, seuns en dogters, en al die goed wat die Amalekiete gevat het.

20. Hy het die skape en bokke en beeste gevat en hy het hulle voor die ander diere verder gejaag. Die mense het gesê: “Dit is die goed wat Dawid gevat het.”

21. Dawid het by die 200 manne gekom wat te moeg was om saam te gaan en wat hy by die Besor-rivier laat bly het. Die 200 manne het vir Dawid en die manne by hom kom ontmoet, en toe Dawid by hulle kom, het hy gevra hoe dit met hulle gaan.

22. ’n Paar van die manne wat saam met Dawid gegaan het, was slegte en wrede mense. Hulle het gesê: “Hierdie manne het nie saam met ons gegaan nie. Ons sal nie vir hulle van die goed gee wat ons gevat het nie. Elke man kan net sy vrou en kinders neem en dan moet hy gaan.”

23. Maar Dawid het gesê: “Vriende, julle moenie so doen met die goed wat die Here vir ons gegee het nie. Hy het ons beskerm en Hy het ons laat wen teen die Amalekiete wat na ons toe gekom het.

24. Niemand moet luister na wat julle sê nie. Die man wat oorlog toe gegaan het en die man wat by die goed gebly het, moet dieselfde kry.”

25. Dawid het daardie dag gesê die Israeliete moet dit altyd doen, en hulle doen dit nou nog.

26. Toe Dawid terugkom in Siklag, het hy van die goed gestuur vir sy vriende, die leiers van Juda, en hy het vir hulle gesê: “Hier is vir julle ’n present, dit is party van die goed wat ons gevat het van die vyande van die Here.”

27. Dawid het die presente gestuur na die mense in Bet-El, Ramot-Negeb, Jattir,

28. Aroër, Sifmot, Estemoa,

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 30