Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 28:6-19 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die Here het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo, hý sal vir My die tempel bou met sy oop stukke grond, want Ek het hóm gekies om ’n seun te wees vir My, en Ek sal ’n Vader wees vir hom.

7. Salomo doen nou wat Ek wil hê en wat Ek besluit. As hy aanhou om dit te doen, dan sal Ek hom koning laat wees so lank soos hy lewe.’

8. Julle moet nou vir my iets belowe, hier waar die hele Israel, die volksvergadering van die Here, dit sien, hier waar ons God dit hoor. Julle moet belowe dat julle sal aanhou om alles te doen wat julle God die Here wil hê. As julle dit doen, dan sal hierdie goeie land julle land wees en julle kinders sal die land ná julle erf, vir altyd.

9. En jý, my seun Salomo, jy moet die God van jou pa ken en jy moet Hom dien met jou hele hart. Jy moet dit geniet om dit te doen, want die Here weet wat elke mens dink, Hy ken elke gedagte van ’n mens. As jy die Here soek, dan sal Hy jou help om Hom te kry, maar as jy weggaan van Hom, dan sal Hy jou vir altyd los.

10. Jy moet nou besef dat die Here vir jou gekies het om die tempel te bou wat aan Hom gewy sal wees. Jy moet sterk wees, jy moet dit doen.”

11. Dawid het vir sy seun Salomo planne gegee van die voorportaal en van die ander geboue by die tempel. Dit was planne van die kamers waar hulle die kosbare goed kon bêre, planne van die bo-kamers, die binneste kamers, en die kamer vir die deksel van die verbondskis.

12. Daar was planne vir alles waaraan Dawid gedink het: planne vir die oop stukke grond by die tempel, vir al die kamers rondom die tempel, vir die stoorkamers van die tempel en die stoorkamers vir die gewyde goed,

13. vir die kamers van die groepe priesters en Leviete, vir al die werk in die tempel, en vir die kamers vir al die tempel-gereedskap.

14. Dawid het vir Salomo ook gesê hoeveel goud en silwer hulle moet gebruik vir die gereedskap.

15. Hy het gesê hoeveel elke goue lampstaander en sy lampe moet weeg, en hoeveel goud hulle daarvoor moet gebruik, hoeveel elke silwer lampstaander en sy lampe moet weeg, en hoeveel silwer hulle daarvoor moet gebruik. Hy het gesê hoe hulle elke lampstaander moet gebruik.

16. Dawid het vir Salomo gesê hoeveel goud hulle moet gebruik vir die tafels waar die offer-brood moet staan, en hoeveel silwer hulle moet gebruik vir die silwertafels.

17. Dawid het gesê hulle moet skoon goud gebruik vir die vurke, die skottels, die bekers en die goue bakke, en hy het gesê hoeveel goud hulle vir elkeen moet gebruik. Hy het ook gesê hulle moet silwer gebruik vir die silwerbakke, en hy het gesê hoeveel silwer hulle vir elkeen moet gebruik.

18. Hy het gesê die wierook-altaar moet van skoon goud wees, en hy het gesê hoeveel goud hulle moet gebruik. Hy het ’n plan gegee vir die waentjie waarop die goue gerubs moes staan. Die gerubs se vlerke moes oop wees en die vlerke moes die verbondskis van die Here toemaak.

19. Dawid het gesê: “Alles wat ek vir julle laat skryf het, kom van die Here. Hy het duidelik vir my gesê wat julle alles moet doen en hoe julle dit moet doen.”

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 28