Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 19:6-17 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die Ammoniete het besef dat Dawid kwaad is vir hulle. Ganun en die Ammoniete het 1 000 talente silwer gestuur om manne op oorlogkarre en perde te huur om vir hulle te kom help, manne van die Arameërs van Mesopotamië, en die Arameërs van die stede Maäka en Soba.

7. Die Ammoniete het 32 000 oorlogkarre gehuur, en hulle het ook die koning van Maäka en sy manne betaal om vir hulle te kom help. Die koning van Maäka en sy manne het gekom en hulle het hulle tente opgeslaan naby die stad Medeba, en die Ammoniete het uit hulle stede bymekaargekom om oorlog te maak.

8. Toe Dawid dit hoor, het hy vir Joab en al sy manne gestuur, manne wat goed oorlog kon maak.

9. Die Ammoniete het uitgekom en hulle het gereedgestaan voor die poort van hulle stad. Die konings wat vir hulle kom help het, het op ’n ander plek in die veld gestaan.

10. Joab het gesien hy sal op twee plekke oorlog moet maak. Hy het van die beste manne van Israel gekies en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Arameërs te veg.

11. Hy het die ander manne vir sy broer Abisai gegee en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Ammoniete te veg.

12. Joab het vir Abisai gesê: “As die Arameërs my wen, dan moet jy my kom help, en as die Ammoniete jou wen, dan sal ek jou kom help.

13. Jy moet dapper wees, en ons sal ook dapper wees en goed veg vir ons volk en vir die stede van ons God. Die Here sal laat gebeur wat Hy wil hê.”

14. Joab en sy manne het toe begin om oorlog te maak teen die Arameërs, en die Arameërs het gevlug vir hom.

15. Toe die Ammoniete sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook weggevlug van Abisai en hulle het ingegaan in hulle eie stad. Joab het toe teruggegaan na Jerusalem.

16. Die Arameërs het besef dat die Israeliete hulle oorwin het. Hulle het boodskappers gestuur en hulle het die Arameërs laat kom wat anderkant die Eufraat-rivier gewoon het. Sofak, die hoof van die leër van Hadad-Eser, het hulle gelei.

17. Dawid het dit gehoor, en hy het al die Israeliete laat bymekaarkom. Hy het oor die Jordaan-rivier gegaan en toe hy by die Arameërs kom, het hy gereedgemaak vir die oorlog. Toe hy dit doen, het die Arameërs teen hom oorlog begin maak.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 19