Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:5-22 Bybel vir Almal (ABA)

5. Maar die boodskappers het later weer na Agab teruggekom en gesê: “Ben-Hadad sê: Ek het vir jou ’n boodskap gestuur en gesê jy moet jou silwer en jou goud en jou vroue en jou seuns vir my gee,

6. maar ek sal môre hierdie selfde tyd my offisiere na jou toe stuur, en hulle sal oral in jou paleis en in die huise van jou amptenare soek. Hulle sal alles vat en saambring, alles wat vir jou kosbaar is.”

7. Toe roep die koning van Israel al die leiers van die land en hy sê vir hulle: “Julle moet hoor, julle moet dit weet. Hierdie man wil vir my probleme gee. Hy het vir my gevra dat ek my vroue en my seuns, my silwer en my goud vir hom moet gee, en ek het nie geweier nie.”

8. Al die leiers en al die mense het vir die koning gesê: “Jy moenie na hom luister nie, jy moenie doen wat hy vra nie.”

9. Toe sê die koning vir die boodskappers van Ben-Hadad: “Sê vir meneer die koning: Ek sal alles doen wat jy die eerste maal vir my gevra het, maar wat jy nou vra, kan ek nie doen nie.”Die boodskappers het vir Ben-Hadad gaan sê wat Agab sê.

10. Ben-Hadad stuur toe weer vir Agab ’n boodskap. Hy het gesê: “Ek bid dat die gode my sal help. Ek sal Samaria so verwoes dat daar net stof sal oorbly, en die stof sal nie genoeg wees vir al die manne saam met my om dit met hulle hande weg te dra nie.”

11. Die koning van Israel het geantwoord: “Iemand wat ’n oorlog wil begin, moenie spog nie, hy moet wag totdat die oorlog verby is.”

12. Ben-Hadad en die ander konings was besig om te drink in die tente. Toe hy die boodskap van Agab kry, het hy vir sy offisiere gesê: “Julle moet gereedmaak.”Hulle het toe gereedgemaak om die stad aan te val.

13. En toe kom daar ’n profeet by Agab, die koning van Israel. Die profeet het gesê: “Die Here sê: Sien jy hierdie groot klomp mense? Ek sal jou vandag laat wen teen hulle, dan sal jy weet dat Ek die Here is.”

14. Toe vra Agab: “Met wie sal die Here dit doen?”En die profeet sê: “Die Here sê: Ek sal dit doen met die jongmanne van die distrikshoofde.”Agab vra toe wie die oorlog moet begin, en die Here antwoord: “Jy.”

15. Agab het die jongmanne van die distrikshoofde laat tel en laat gereedstaan. Hulle was 232 manne. Daarna het hy al die manne van Israel laat tel en laat gereedstaan. Hulle was 7 000 manne.

16. Hulle het in die middel van die dag uit die stad gegaan. Ben-Hadad was besig om te drink en dronk te word in die tente, hy en die 32 konings wat sy bondgenote was.

17. Die jongmanne van die distrikshoofde het eerste gegaan. Ben-Hadad het manne gestuur om uit te vind wat gebeur, en sy manne het vir hom kom sê: “Daar het manne uit Samaria gekom.”

18. Ben-Hadad sê toe: “As hulle nie gekom het om oorlog te maak nie, dan moet julle hulle lewendig vang. En as hulle gekom het om oorlog te maak, dan moet julle hulle ook lewendig vang.”

19. Die jongmanne van die distrikshoofde het uit die stad gekom, en die ander manne was agter hulle.

20. Elke man van Agab, die koning van Israel, het die man oorwin wat teen hom geveg het, en die Arameërs het gevlug. Die Israeliete het hulle gevolg en gejaag. Maar Ben-Hadad koning van Aram het op ’n perd gevlug saam met die manne wat op perde gery het.

21. Die koning van Israel het uit die stad gegaan en hy het die oorlog gewen teen Ben-Hadad se manne op die perde en op die oorlogkarre. Hy het ver gewen teen die Arameërs.

22. Die profeet het daarna weer by Agab gekom en hy het vir Agab gesê: “Jy moet nou meer soldate kry en jy moet goeie planne maak, want naby die einde van die jaar sal die koning van Aram jou weer kom aanval.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20