Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:18-30 Bybel vir Almal (ABA)

18. Ben-Hadad sê toe: “As hulle nie gekom het om oorlog te maak nie, dan moet julle hulle lewendig vang. En as hulle gekom het om oorlog te maak, dan moet julle hulle ook lewendig vang.”

19. Die jongmanne van die distrikshoofde het uit die stad gekom, en die ander manne was agter hulle.

20. Elke man van Agab, die koning van Israel, het die man oorwin wat teen hom geveg het, en die Arameërs het gevlug. Die Israeliete het hulle gevolg en gejaag. Maar Ben-Hadad koning van Aram het op ’n perd gevlug saam met die manne wat op perde gery het.

21. Die koning van Israel het uit die stad gegaan en hy het die oorlog gewen teen Ben-Hadad se manne op die perde en op die oorlogkarre. Hy het ver gewen teen die Arameërs.

22. Die profeet het daarna weer by Agab gekom en hy het vir Agab gesê: “Jy moet nou meer soldate kry en jy moet goeie planne maak, want naby die einde van die jaar sal die koning van Aram jou weer kom aanval.”

23. Die offisiere van Ben-Hadad, die koning van Aram, het vir hom gesê: “Die gode van die Israeliete is berg-gode, daarom was hulle te sterk vir ons. Dit sal beter wees as ons op gelyk grond oorlog maak teen hulle, dan sal ons sterker wees as hulle.

24. Dit is wat jy moet doen: Jy moet die konings uitskop en jy moet goewerneurs in hulle plekke kies en aanstel.

25. Jy moet self weer manne kies in die plek van jou manne wat gesterf het en jy moet perde en oorlogkarre kry soos jy gehad het. Ons moet op gelyk grond oorlog maak teen hulle, dan sal ons sterker wees as hulle.”Ben-Hadad het na hulle geluister en hy het dit gedoen.

26. Naby die einde van die jaar het Ben-Hadad gesê die Arameërs moet gereedmaak om oorlog te maak. Hulle het na die stad Afeka gegaan om oorlog te maak teen Israel.

27. Die Israeliete het ook gereedgemaak en hulle het genoeg kos saamgeneem. Hulle het gegaan om die Arameërs te ontmoet. Die Israeliete het hulle tente opgeslaan oorkant die Arameërs se tente. Die tente was soos twee troppe bokke. Die Arameërs was oral in die land.

28. En toe kom ’n man van God by die koning van Israel en hy sê vir hom: “Die Here sê: Die Arameërs het gesê dat Ek ’n berg-god is, nie ’n god van gelyk plekke nie. Daarom sal Ek jou laat wen teen hierdie baie soldate, en jy sal weet dat Ek die Here is.”

29. Die twee groepe soldate het sewe dae lank oorkant mekaar in hulle tente gebly. Op die sewende dag het die oorlog begin, en die Israeliete het op een dag 100 000 Arameërs doodgemaak. Dit was voetsoldate.

30. Die Arameërs wat oorgebly het, het in die stad Afeka in gevlug, maar toe het die muur van die stad omgeval op die 27 000 manne wat oorgebly het. Ben-Hadad het in die stad van die een kamer na die ander kamer gevlug.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20