Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:27-44 Bybel vir Almal (ABA)

27. So het Salomo vir Abjatar laat ophou om priester te wees, en so het waar geword wat die Here gesê het van die familie van Eli in Silo.

28. Toe Joab hoor wat gebeur het, het hy na die tent van die Here gevlug en aan die horings van die altaar gaan vashou. Hy wou voorheen nie vir Absalom help om koning te word nie, maar nou wou hy vir Adonia help.

29. Toe koning Salomo hoor dat Joab na die tent van die Here gevlug het en dat hy daar langs die altaar staan, het hy vir Benaja seun van Jojada gestuur en gesê hy moet vir Joab gaan doodmaak.

30. Benaja het na die tent van die Here gegaan en vir Joab gesê: “Die koning sê jy moet uitkom.”Maar Joab het gesê: “Ek sal nie, ek wil hiér sterf.”Benaja het vir die koning gaan sê wat Joab gesê het,

31. en die koning het vir Benaja gesê: “Jy moet doen wat hy gesê het, gaan maak hom dood en begrawe hom. Dan sal die mense nie meer vir my en my familie beskuldig dat ons mense doodgemaak het nie, die mense vir wie Joab onskuldig doodgemaak het.

32. Die Here self sal vir Joab straf omdat hy die twee goeie manne doodgemaak het, manne wat beter was as hy. Joab het hulle met ’n swaard doodgesteek, maar my pa Dawid het niks daarvan geweet nie. Die twee manne was Abner seun van Ner, die hoof van die leër van Israel, en Amasa seun van Jeter, die hoof van die leër van Juda.

33. Joab en sy nageslag sal vir altyd skuldig wees omdat hulle daardie manne doodgemaak het, maar die Here sal dit goed laat gaan met Dawid en sy nageslag, met sy familie en met sy regering.”

34. Benaja seun van Jojada het gegaan en hy het vir Joab doodgemaak. Hulle het vir Joab begrawe by sy huis in die woestyn.

35. Die koning het vir Benaja seun van Jojada in Joab se plek gekies en aangestel om die hoof van die leër te wees, en hy het die priester Sadok gekies en aangestel in Abjatar se plek.

36. Die koning het vir Simeï laat roep en hy het vir Simeï gesê: “Jy moet vir jou in Jerusalem ’n huis bou en daar gaan woon. Jy moenie uit die stad gaan nie.

37. As jy van jou huis weggaan en oor die Kedron-vallei gaan, dan sal jy sterf, dit is seker, en dit sal jóú skuld wees.”

38. Simeï het vir die koning gesê: “Wat Meneer die koning sê, is goed. Ek sal dit doen.”Simeï het lank in Jerusalem gewoon,

39. maar drie jaar later het twee van sy slawe weggeloop na Akis seun van Maäka, die koning van die stad Gat. Die mense het vir Simeï gesê sy slawe is in Gat.

40. Hy het gereedgemaak en sy donkie opgesaal. Hy het na Akis in Gat gegaan om sy slawe te soek, en hy het hulle teruggebring uit Gat.

41. Salomo het gehoor dat Simeï uit Jerusalem na Gat gegaan het en weer teruggekom het.

42. Hy laat toe vir Simeï roep en hy sê vir Simeï: “Kan jy onthou dat ek jou voor die Here laat belowe het en dat ek jou gewaarsku het? Ek het gesê wanneer jy uit die stad na ’n ander plek gaan, dan moet jy weet jy sal sterf, dit is seker. En jy het vir my gesê dit is goed, jy verstaan dit.

43. Hoekom het jy nie gedoen wat jy voor die Here belowe het nie? Hoekom het jy nie gedoen wat ek vir jou gesê het nie?”

44. Die koning het ook vir Simeï gesê: “Jy weet jy is ’n slegte mens. Jy weet ook wat jy teen my pa Dawid gedoen het. Die Here sal jou nou straf oor wat jy gedoen het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2