Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die tyd het nader gekom dat Dawid moes sterf, en hy het vir sy seun Salomo gesê:

2. “Ek gaan nou sterf, soos al die mense. Jy moet sterk wees, jy moet ’n dapper man wees.

3. Jy moet doen wat jou God die Here gesê het. Jy moet lewe soos Hy wil hê, jy moet gehoorsaam wees en jy moet altyd doen wat die Here vir jou sê en leer, soos Moses in die wette geskryf het. Dan sal dit goed gaan met jou, dit sal goed gaan met alles wat jy doen en oral waar jy gaan.

4. Dan sal die Here doen wat Hy belowe het toe Hy gesê het: ‘As jou seuns aanhou om gehoorsaam te bly aan My en as hulle met hulle hele hart en lewe doen wat Ek wil hê, dan sal daar altyd iemand van jou nageslag op die troon van Israel sit.’

5. Jy weet ook wat Joab seun van Seruja aan my gedoen het en wat hy gedoen het met die twee hoofde van die leër van Israel. Hy het vir Abner seun van Ner, en vir Amasa seun van Jeter vermoor. Hy het hulle doodgemaak toe daar vrede was, nie in ’n oorlog nie. Hulle bloed het gevloei oor die belt om sy heupe en oor die sandale aan sy voete, soos in ’n oorlog.

6. Jy moet met hom doen wat jy dink is reg. Hy is ’n ou man, maar jy moenie hom in vrede laat sterf omdat hy oud is nie.

7. “Maar jy moet onthou die seuns van Barsillai van Gilead is jou vriende. Jy moet hulle by jou tafel laat eet, want hulle het dit ook vir my gedoen toe ek moes vlug vir jou broer Absalom.

8. “Simeï seun van Gera is ook hier by jou. Gera is ’n Benjamin-man van die stad Bagurim. Dit is hý wat my beledig het en wat my baie hartseer gemaak het daardie dag toe ek na die stad Maganajim gegaan het. Dit is ook hý wat my later kom ontmoet het by die Jordaan-rivier, en toe het ek vir hom voor die Here belowe dat ek hom nie sal doodmaak nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2