Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:18-36 Bybel vir Almal (ABA)

18. Hadad en die manne het uit die land Midian gegaan en hulle het in die land Paran gekom. Hulle het manne van Paran saamgeneem en hulle het in Egipte gekom by die farao, die koning van Egipte. Die koning het vir Hadad ’n huis gegee en hy het gesê hoeveel kos Hadad moet kry. Hy het ook vir Hadad grond gegee.

19. Die farao het baie gehou van Hadad en hy het vir hom ’n vrou gegee. Sy was die suster van koningin Tagpenes, die farao se vrou.

20. Die suster van Tagpenes het ’n seun gekry. Die seun se naam was Genubat. Tagpenes het die seun, Genubat, in die paleis grootgemaak. Genubat was in die paleis tussen die farao se kinders.

21. Hadad het daar in Egipte gehoor dat Dawid en Joab, die hoof van die leër, gesterf het. Hadad sê toe vir die farao: “Jy moet my laat gaan, ek wil teruggaan na my land.”

22. Die farao het vir Hadad gesê: “Hoekom wil jy teruggaan na jou land? Ek het vir jou alles gegee wat jy moet hê.”Hadad het gesê: “Nee, jy moet my asseblief laat gaan.”

23. Daar was nog iemand wat ’n vyand van Salomo geword het. Dit was Reson seun van Eljada. Die Here het dit so laat gebeur: Reson het weggevlug van sy koning, koning Hadad-Eser van die land Soba.

24. Reson het ’n groep manne bymekaargemaak en hy was hulle leier. Toe Dawid die Arameërs begin doodmaak, het Reson na Damaskus gegaan en hy het daar gaan woon. Die mense van Damaskus het gesê hy moet hulle koning wees.

25. Reson was ’n vyand van Israel terwyl Salomo gelewe het en hy het baie slegte dinge gedoen, soos Hadad. Reson was die koning van die Arameërs en hy het Israel gehaat.

26. Jerobeam seun van Nebat was ’n amptenaar van koning Salomo. Jerobeam het van Efrat in Sereda gekom en hy was die seun van Serua, ’n weduwee. Jerobeam het opstandig geword teen die koning.

27. Dit is hoe dit gebeur het: Salomo het die terras laat bou en hy het ook die stukkende muur van die Dawidstad laat regmaak.

28. Die jongman Jerobeam was ’n belangrike man, en Salomo het gesien die jongman kan goed werk. Toe kies Salomo hom om die hoof te wees van al die mense van die Josef-stamme wat vir die koning moes werk.

29. Eendag het Jerobeam uit die stad Jerusalem gegaan, en die profeet Agija van Silo het hom langs die pad gekry. Agija het ’n nuwe bo-kleed aangehad en hulle twee was alleen in die veld.

30. Agija vat toe sy bo-kleed en skeur dit in twaalf stukke

31. en hy sê vir Jerobeam: “Neem vir jou tien stukke, want die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek sal die land wegvat van Salomo en Ek sal vir jou tien stamme gee.

32. Salomo sal een stam hou omdat Ek lief was vir Dawid en omdat Ek lief is vir Jerusalem, die stad wat Ek gekies het van al die stede van die stamme van Israel.

33. Ek vat die land weg van Salomo en sy familie omdat hulle weggegaan het van My en gebuig het voor Astarte, die godin van die Sidoniërs, en voor Kemos, die god van die Moabiete, en voor Milkom, die god van die Ammoniete. Salomo het nie gelewe soos Ek wou hê nie en hy het nie die regte dinge gedoen waarvan Ek hou nie, die dinge wat Ek in my wette gesê het. Sy pa Dawid het dit gedoen, hy het reg gelewe.

34. Maar Ek sal nie die hele land wegvat van Salomo nie, hy sal aanhou regeer terwyl hy lewe. Ek sal dit doen omdat Ek lief was vir my dienaar Dawid wat Ek gekies het, hy het gedoen wat Ek in my wette gesê het.

35. Ek sal die land wegvat in die tyd wanneer Salomo se seun regeer en Ek sal die tien stamme vir jou gee.

36. Ek sal een stam vir sy seun gee sodat hy hulle koning kan bly, en sodat die lamp van die nageslag van my dienaar Dawid kan aanhou brand in Jerusalem, die stad wat Ek vir My gekies het om aan My te behoort.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11