Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 11:17-25 Bybel vir Almal (ABA)

17. God het die Israeliete gelos en Hy red julle wat heidene is. Dit is soos wanneer iemand takke van ’n mak olyfboom afbreek en dan takke van ’n wilde olyfboom inent op die mak olyfboom. Dan groei daardie wilde takke aan die mak olyfboom en hulle kry ook van die boom se wortel al die kos wat hulle nodig het.

18. Julle wat heidene is, is soos die wilde takke, en die Israeliete is soos die mak takke. Die wilde takke mag nie dink hulle is beter as die mak takke nie, want die wilde takke lewe nie self nie, hulle kry hulle kos van die boom se wortel.

19. Julle wat heidene is, sê miskien: “God het die mak takke afgebreek sodat Hy ons op die boom kon inent.”

20. Ja, dit is waar. Maar julle moet onthou dat God die mak takke, die Israeliete, afgebreek het omdat hulle nie in Christus glo nie. Julle wat heidene is, het vasgegroei aan die boom omdat julle in Christus glo. Daarom moet julle nie hoogmoedig wees nie. Nee, julle moet vir God respekteer en Hom dien.

21. Julle moet onthou God was nie jammer vir die mak takke nie en Hy sal miskien ook nie jammer wees vir julle nie.

22. Julle moet weet God is baie goed, maar Hy is ook kwaai. Hy is kwaai met die mense wat nie in Christus glo nie en wat verlore gaan. God is baie goed vir julle, maar dan moet julle aanhou lewe soos mense wat weet dat God baie goed is vir hulle. As julle dit nie doen nie, dan sal God julle ook afkap van die boom soos Hy die mak takke afgekap het.

23. As die Israeliete in Christus glo, dan sal God hulle weer aanneem om aan Hom te behoort. God kan dit doen.

24. Julle wat heidene is, is soos takke van ’n wilde olyfboom. Wilde takke groei nie maklik op ’n mak olyfboom nie, maar God het vir julle afgekap en Hy het julle ingeënt op ’n mak olyfboom. Daarom sal dit vir God baie makliker wees om die Israeliete weer aan te neem, want hulle is soos die takke wat maklik weer vasgroei aan die boom van waar dit kom.

25. Vriende, ek wil hê julle moet weet wat God voorheen besluit het en wat Hy nou vir ons gesê het. Julle moenie dink julle weet alles nie. Party Israeliete is nou hardkoppig en hulle wil nie in Christus glo nie. Dit sal so wees totdat God al die heidene gered het wat Hy wil red.

Lees volledige hoofstuk Romeine 11