Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 9:2-14 Bybel vir Almal (ABA)

2. Die ster het die diep gat oopgemaak wat na die onderwêreld gaan. Toe kom daar rook uit die gat, baie rook, soos die rook van ’n groot vuur. En die son en die lug het donker geword van die rook wat uit die gat kom.

3. Uit die rook het daar sprinkane gekom. God het vir die sprinkane gesê hulle mag doen wat skerpioene op die aarde doen.

4. God het vir hulle gesê hulle mag nie die gras op die aarde vreet nie, ook nie enige iets wat groen is nie, ook nie die bome nie. Hulle mag net die mense seermaak wat nie God se merk op hulle voorkoppe het nie.

5. God het gesê hulle mag daardie mense vyf maande lank seermaak, maar hulle mag nie daardie mense doodmaak nie. Wanneer hulle die mense seermaak, dan is dit so seer soos wanneer ’n skerpioen ’n mens steek.

6. Wanneer dit gebeur, dan sal die mense wens dat hulle sterf, maar hulle sal nie sterf nie. Hulle sal wens dat hulle gou doodgaan, maar die dood sal nie kom nie.

7. Die sprinkane lyk soos perde wat gereed is om oorlog te maak. Op elke sprinkaan se kop is iets wat lyk soos ’n goue kroon. Hulle gesigte lyk soos mense se gesigte.

8. Die sprinkane se hare lyk soos vroue se hare, en hulle tande lyk soos leeus se tande.

9. Die sprinkane dra harnasse wat lyk soos harnasse van yster. Hulle vlerke raas baie, soos baie oorlogkarre en perde wat oorlog gaan maak.

10. Hulle sterte is soos skerpioene se sterte en hulle het ook angels waarmee hulle die mense steek. Die skerpioene kan hulle sterte vyf maande lank gebruik om die mense seer te maak.

11. Die sprinkane se koning is die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam is Abaddon en sy Griekse naam is Apollion.

12. Die eerste swaarkry is verby, maar daar kom nóg twee tye wanneer mense sal swaarkry!

13. Die sesde engel het sy trompet geblaas. Toe hoor ek iemand praat tussen die vier horings van die altaar, die goue altaar wat voor God staan.

14. Hy het vir die sesde engel, die engel wat die trompet het, gesê: “God het vier engele vasgebind by die groot Eufraat-rivier. Jy moet hulle losmaak!”

Lees volledige hoofstuk Openbaring 9