Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 2:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Pergamum skryf: Die Een wat die skerp swaard het, sê:

13. Ek weet waar jy woon. Satan se troon is daar, maar jy hou aan om in My te glo. Ja, Satan woon daar by julle. En die mense het vir Antipas daar by julle doodgemaak omdat hy aangehou het om vir mense te vertel van My, maar jy was nie bang om te sê dat jy in My glo nie.

14. Maar Ek is kwaad vir jou, want jy doen ’n paar dinge verkeerd. Party van jou mense doen die dinge wat Bileam vir die mense geleer het. Hy het vir Balak gesê hoe hy die Israeliete sonde kan laat doen. Hy het gesê Balak moet vir hulle afgod-offervleis laat eet en hy moet hulle onsedelik laat lewe.

15. Dieselfde gebeur daar by jou. Daar is ook party mense wat die dinge glo wat die Nikolaïete vir hulle leer.

16. Maar jy moet lewe soos Ek wil hê. As jy dit nie doen nie, dan sal Ek gou kom en Ek sal die swaard wat in my mond is, gebruik om oorlog te maak teen die mense wat die dinge glo wat die Nikolaïete vir hulle leer.

17. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees! As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou van die manna gee, ander mense weet nie van daardie manna nie. Ek sal ook vir jou ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n nuwe naam geskryf. Niemand anders sal weet wat daardie naam is nie, net jy sal dit weet.”

18. “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Tiatira skryf: Die Seun van God se oë is soos ’n vuurvlam en sy voete is soos blink koper. Hy sê:

19. Ek weet alles wat jy doen: Jy is lief vir My, jy doen wat jy sê jy sal doen, en jy dien die ander gelowiges. Ek weet jy kry swaar omdat jy aan My behoort, maar jy bly geduldig. Ek weet jy doen nou baie meer dinge vir My, meer as wat jy gedoen het toe jy in My begin glo het.

20. Maar Ek is kwaad vir jou, want jy doen niks teen die vrou Isebel nie. Sy sê sy is ’n profeet, maar sy leer dinge wat nie waar is nie, sy leer dit vir die mense wat My dien. Sy leer vir hulle om onsedelik te lewe en om afgod-offervleis te eet.

21. Ek het vir haar tyd gegee om te begin lewe soos Ek wil hê en om op te hou om onsedelik te lewe, maar sy wil nie ophou nie.

22. As sy en almal wat saam met haar onsedelik lewe, nie ophou om verkeerde dinge te doen nie en as hulle nie begin lewe soos Ek wil hê nie, dan sal Ek vir haar en vir hulle baie siek laat word.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 2