Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 23:17-30 Bybel vir Almal (ABA)

17. Julle is blind en dwaas. Wat is die belangrikste: die goud of die tempel? Want die tempel maak die goud gewyd.

18. En julle sê: ‘As iemand iets belowe en hy sê die altaar is die getuie, dan maak dit nie saak as hy nie doen wat hy belowe het nie. Maar as iemand iets belowe en hy sê die offer aan God op die altaar is die getuie, dan moet hy doen wat hy belowe het.’

19. Julle is blind! Wat is die belangrikste: die offer of die altaar wat die offer gewyd maak?

20. Iemand wat iets belowe en sê die altaar is sy getuie, belowe dit en sê die altaar en alles daarop is sy getuie.

21. En iemand wat iets belowe en sê die tempel is sy getuie, belowe dit en sê die tempel en God wat in die tempel woon, is sy getuie.

22. En iemand wat iets belowe en sê die hemel is sy getuie, belowe dit en sê die troon van God en God wat op die troon sit, is sy getuie.

23. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Want julle gee tiendes, ook van kruisement, anys en koljander, maar julle doen nie die belangrikste dinge wat die wette van God vra nie. Die belangrikste dinge is: Julle moet reg doen aan mense, julle moet goed wees vir mense en julle moet doen wat julle belowe het. Hierdie dinge moet julle doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie.

24. Julle is blindes wat vir ander blindes wil wys waar hulle moet loop. Julle is soos mense wat water deur ’n doek gooi sodat hulle nie ’n klein muggie sal insluk nie, maar hulle sluk ’n kameel in.

25. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle wat skynheilige mense is. Julle maak die buitekant van julle bekers en borde skoon, maar julle het alles gevat wat in die bekers en op die borde is, julle het dit van ander mense gevat omdat julle net vir julleself wil sorg.

26. Fariseër, jy wat blind is, jy moet eers die binnekant van die beker skoonmaak, dan sal die buitekant ook skoon wees.

27. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle is soos grafte wanneer mense dit wit geverf het. Die buitekant lyk mooi, maar binne-in is dit vol bene van dooie mense en ander dinge wat onrein is.

28. Julle is ook so: Wanneer mense na julle kyk, dan lyk julle soos mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, maar in julle harte is julle skynheilig en doen julle nie wat God se wette sê nie.

29. “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Julle bou grafkamers vir die profete en julle maak die monumente mooi vir die mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here.

30. “Julle sê: ‘As ons gelewe het in die tyd toe ons voorouers gelewe het, dan sou ons nie vir hulle gehelp het om die profete te vermoor nie.’

Lees volledige hoofstuk Matteus 23