Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:11-26 Bybel vir Almal (ABA)

11. Maar toe die mense hoor waarnatoe hulle gaan, het hulle ook daarnatoe gegaan. Jesus het vir hulle gewag. Toe praat Hy met hulle en sê vir hulle God is Koning en Hy regeer. Jesus het ook die mense gesond gemaak wat graag gesond wou word.

12. Dit het laat geword, en die twaalf dissipels het na Jesus toe gekom en gesê: “Stuur die mense weg sodat hulle na die dorpies en plase hier naby kan gaan om slaapplek en kos te kry. Hier waar ons is, is niks kos nie.”

13. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Júlle moet vir hulle kos gee om te eet.”Die dissipels het gesê: “Ons het net vyf brode en twee visse. Ons kan nie vir al hierdie mense kos gee nie, ons sal moet gaan kos koop.”

14. Daar was baie mense. Die mans was omtrent 5 000. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Sê vir die mense hulle moet in groepe van omtrent 50 bymekaar sit.”

15. Die dissipels het dit gedoen en hulle het gesê al die mense moet sit.

16. Toe het Jesus die vyf brode en twee visse geneem. Hy het opgekyk na die hemel en Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die kos in stukke gebreek en Hy het dit vir die dissipels gegee. Die dissipels het dit vir die mense gegee.

17. Almal het genoeg geëet. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het.

18. Eendag was Jesus alleen, Hy was besig om te bid. Die dissipels was daar naby Hom. Jesus vra toe vir hulle: “Wat sê die mense, wie is Ek?”

19. Die dissipels het vir Hom gesê: “Party mense sê U is Johannes die Doper, party mense sê U is Elia, en ander mense sê U is een van die profete wat lank gelede gelewe het en wat nou weer begin lewe het.”

20. Jesus het vir hulle gevra: “Maar julle, wat sê júlle? Wie sê júlle is Ek?”Petrus het geantwoord: “U is die Christus van God.”

21. Jesus het toe vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie.

22. Hy het ook gesê dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe.

23. Jesus het vir al die mense gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet elke dag lewe soos iemand wat weet hy sal aan ’n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg.

24. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red.

25. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe vir altyd, dan help dit jou niks.

26. As iemand My nie wil ken nie en nie wil glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9