Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 8:32-47 Bybel vir Almal (ABA)

32. ’n Groot trop varke het teen die kant van die berg gewei. Die duiwels het vir Jesus gesoebat om hulle in die varke te laat ingaan. Jesus het gesê hulle mag dit doen.

33. Die duiwels het uit die man uitgegaan en hulle het in die varke ingegaan. Die varke het teen die berg afgehardloop tot binne-in die see. Daar het almal verdrink.

34. Die wagters wat die varke opgepas het, het gesien wat gebeur het. Hulle het weggehardloop en hulle het alles gaan vertel in die stad en op die plase.

35. Die mense het gekom om te sien wat gebeur het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle die man, die duiwels het uit hom uitgegaan. Hy het by die voete van Jesus gesit. Hy het klere aangehad. Daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het groot geskrik.

36. Die ander mense wat gesien het hoe Jesus die man gered het wat vol duiwels was, vertel toe alles.

37. Al die mense in die land waar die Gerasene gewoon het, het vir Jesus gevra om weg te gaan van hulle, want hulle almal het baie bang geword. Jesus het toe in die boot geklim en weggegaan.

38. Die man uit wie die duiwels gegaan het, het gesoebat om saam met Jesus te gaan. Maar Jesus het die man weggestuur en Hy het vir hom gesê:

39. “Gaan terug na jou huis en vertel vir die mense alles wat God vir jou gedoen het.”Die man het weggegaan en hy het vir almal in die stad vertel wat Jesus vir hom gedoen het.

40. Jesus het teruggegaan na die provinsie Galilea. Baie mense het na Hom toe gekom, want almal het vir Hom gewag om te kom.

41. ’n Man het na Jesus toe gekom. Sy naam was Jaïrus. Hy was ’n belangrike man in die sinagoge. Hy het voor Jesus op die grond gekniel en hy het vir Jesus gesoebat om na sy huis te kom.

42. Jaïrus se enigste dogtertjie was baie siek, sy was naby haar dood. Sy was twaalf jaar oud. Jesus het na haar toe gegaan. Daar was so baie mense dat hulle teen Jesus gedruk het.

43. Daar was ’n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei. Sy het al haar geld gebruik om die dokters te betaal, maar niemand kon haar gesond maak nie.

44. Die vrou het van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy het toe dadelik opgehou bloei.

45. Jesus het gevra: “Wie het aan My geraak?”Almal het gesê hulle het nie aan Hom geraak nie. Petrus het gesê: “Here, hier is baie mense wat teen U druk.”

46. Maar Jesus het gesê: “Iemand het aan My geraak, want Ek het gevoel daar gaan krag uit My.”

47. Die vrou het gesien Jesus weet van haar. Sy het gebewe en sy het nader gekom en voor Jesus gekniel. Toe vertel sy daar voor al die mense hoekom sy aan Hom geraak het en dat sy dadelik gesond geword het.

Lees volledige hoofstuk Lukas 8