Ou Testament

Nuwe Testament

Judas 1:10-15 Bybel vir Almal (ABA)

10. Maar hierdie mense wat nie die Here dien nie, sê slegte dinge van almal en alles wat hulle nie verstaan nie. Hulle verstaan party dinge, maar hulle verstaan soos wilde diere wat nie verstand het nie, en dit is daardie dinge wat hulle sal laat sterf.

11. Dit sal sleg gaan met hierdie vals leermeesters, want hulle lewe verkeerd en hulle doen sonde soos Kain. Bileam het probeer om die Israeliete te verlei om sonde te doen, hy het dit gedoen sodat hy ’n beloning kon kry. Hierdie vals leermeesters lewe ook so. Hulle is so opstandig soos Korag, en die Here sal hulle verlore laat gaan.

12. Julle is gelowiges en wanneer julle vóór die nagmaal saam eet omdat julle lief is vir mekaar, dan is hierdie vals leermeesters ook daar, hulle is soos gevaarlike rotse onder die water, rotse wat ’n skip kan laat sink. Hulle eet en drink en vier fees saam met julle, maar hulle sorg net vir hulleself en hulle is nie skaam daaroor nie. Hierdie vals leermeesters is soos wolke wat nie reën bring nie, die wind waai hulle weg. Hulle is soos vrugtebome wat nie vrugte dra nie. Hulle is so dood soos bome wat mense uit die grond getrek het, ja, hulle is heeltemal dood.

13. Hulle sonde is soos die vuil skuim op die wilde branders van die see wanneer daar ’n storm is. So kan ’n mens hulle skandes sien. Hulle is soos sterre wat verdwaal het. Daarom het die Here vir hulle ’n plek gereedgemaak in die donker plek, die baie donker plek.

14. Henog, die sewende voorvader ná Adam, het ook die Here se boodskap gebring oor hierdie vals leermeesters. Hy het gesê: “Julle moet dit weet: Die Here sal kom met sy tienduisende heilige engele

15. om almal te oordeel. Die Here sal kom om al die sondaars te straf, Hy sal ook die mense straf wat Hom nie dien nie. Hy sal hulle straf oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het en oor al die slegte dinge wat hulle teen Hom gesê het.”

Lees volledige hoofstuk Judas 1