Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 16:5-23 Bybel vir Almal (ABA)

5. Nou gaan Ek terug na die Vader wat My na die wêreld gestuur het, maar nie een van julle vra vir My waarnatoe Ek gaan nie.

6. Julle het baie hartseer geword omdat Ek al hierdie dinge vir julle gesê het.

7. Maar Ek vertel vir julle die waarheid: Dit is goed vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, dan sal die Helper, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek weggaan, dan sal Ek Hom na julle toe stuur.

8. Wanneer die Helper kom, dan sal Hy vir die mense van die wêreld bewys dat hulle verkeerd dink oor sonde, en oor wie reg is voor God, en oor die oordeel van God.

9. Hulle dink verkeerd oor sonde, want hulle glo nie in My nie.

10. Hulle dink verkeerd oor wie reg is voor God, want Ek gaan na die Vader toe en julle sal My nie meer sien nie.

11. Hulle dink verkeerd oor die oordeel van God, want God het klaar die Satan, die leier van die mense van die wêreld, ge-oordeel.

12. “Daar is nog baie ander dinge wat Ek vir julle wil sê, maar dit is te moeilik vir julle om nou te verstaan.

13. Wanneer die Helper kom, die Heilige Gees wat vir julle sal wys wat die waarheid is, dan sal Hy vir julle alles vertel van die waarheid. Hy sal nie self dink wat Hy vir julle moet vertel nie. Nee, Hy sal vir julle vertel wat Hy by My en by die Vader hoor. Hy sal julle help om die dinge te verstaan wat nog met julle sal gebeur.

14. Die Helper sal wys dat Ek God is, want alles wat Hy vir julle sal sê, kom van My.

15. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My. Dit is hoekom Ek sê alles wat die Heilige Gees vir julle sal sê, kom van My.”

16. Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Dit sal nie meer lank wees nie, dan sal julle My nie sien nie. Daarna sal dit ook nie lank wees nie, dan sal julle My weer sien.”

17. Party van Jesus se dissipels het vir mekaar gesê: “Ons verstaan nie wat Jesus sê nie. Hy sê dit sal nie meer lank wees nie, dan sal ons Hom nie sien nie, en daarna sal dit nie lank wees nie, dan sal ons Hom weer sien. Wat beteken dit wanneer Hy sê Hy gaan na die Vader toe?

18. Hy sê ‘nie lank nie.’ Wat beteken dit? Ons verstaan dit nie.”

19. Jesus het geweet wat hulle vir Hom wil vra. Hy het toe vir hulle gevra: “Vra julle vir mekaar wat dit beteken dat dit nie lank sal wees nie, dan sal julle My nie sien nie en dat dit daarna nie lank sal wees nie, dan sal julle My weer sien?

20. Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal huil en treur, maar die mense van die wêreld sal bly wees. Julle sal eers hartseer wees, maar later sal julle nie meer hartseer wees nie, julle sal bly wees.

21. Wanneer ’n vrou ’n kind kry, dan het sy pyn, want dit is die tyd wanneer haar baba moet kom. Maar wanneer die baba klaar gebore is, dan dink sy nie meer aan die pyn nie, want sy is bly dat sy ma geword het.

22. Julle het ook nou pyn, maar wanneer Ek julle weer sien, dan sal julle bly wees. Dan sal niemand julle weer ongelukkig kan maak nie.

23. “Daardie dag sal julle nie meer vir My iets vra nie. Ek sê vir julle, en dit is seker: Daardie dag kan julle vir die Vader enige iets vra omdat julle aan My behoort, en Hy sal dit vir julle gee.

Lees volledige hoofstuk Johannes 16