hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 4 Bybel vir Almal (ABA)

Vriende van die mense van die wêreld is vyande van God

1. Julle weet goed hoekom julle twis en baklei met mekaar. Dit is omdat julle so baie slegte dinge wil hê vir julleself. Die dinge wat julle wil hê, baklei met mekaar in julle harte.

2. Julle wil baie graag dinge hê, maar julle kry dit nie, en daarom vermoor julle mense en daarom is julle jaloers op mekaar. Wanneer julle nie die dinge kan kry wat julle graag wil hê nie, dan twis en baklei julle. En julle kry nie die dinge wat julle wil hê nie, omdat julle dit nie vir God vra nie.

3. En wanneer julle iets vir God vra, dan kry julle dit nie, omdat julle verkeerd vra. Julle vra dinge sodat julle dit kan mors saam met al die ander lekker dinge wat julle graag wil doen.

4. Julle is slegte en sondige mense. Julle weet baie goed dat wanneer iemand ’n vriend is van die mense van die wêreld, dan is hy ’n vyand van God. Die mens wat graag ’n vriend wil wees van die mense van die wêreld, wys dat hy ’n vyand van God is.

5. In die Ou Testament is geskryf: “God het die lewe vir ons gegee, Hy wil ons lewe heeltemal vir Homself hê.”Julle weet dit is waar.

6. Maar God gee vir ’n mens nog meer genade. Daarom sê God in die Ou Testament: Wanneer mense dink dat hullevir ander mense kan spot,dan spot God vir húlle.Wanneer mense weet dat hullenie hulleself kan help nie,dan is God goed vir hulle.

7. Julle moet gehoorsaam wees aan God, julle moet veg teen die duiwel, dan sal hy wegvlug van julle.

8. Julle moet nader kom na God toe, dan sal Hy nader kom na julle toe. Julle is mense wat sonde doen, julle moet ophou om verkeerde dinge te doen. Julle is vals en julle doen nie wat julle sê nie, julle moet ophou om verkeerde dinge te dink.

9. Julle moet besef dat dit baie sleg gaan met julle, julle moet huil en treur. Julle is nou vrolik, maar julle moet hartseer word. Julle is nou bly, maar julle moet ophou om bly te wees, en julle moet weet dat julle nie goed genoeg is nie.

10. Julle moet vir die Here wys dat julle nie dink julle is belangrik nie. Dan sal Hy julle belangrik maak.

Julle moenie slegte dinge sê van mekaar nie

11. My vriende, julle moenie slegte dinge sê van mekaar nie. Wanneer iemand slegte dinge sê van sy vriend of wanneer hy sê sy vriend doen verkeerd en God moet hom straf, dan sê hy slegte dinge van God se wette en hy sê dat die wette verkeerd is. En as jy sê dat die wette verkeerd is, dan doen jy nie wat die wette sê nie, maar dan is jy die regter wat die wette oordeel.

12. Daar is net Een wat wette maak en wat mag oordeel. Net Hý kan mense red of laat sterf. Maar jý, jy mag nie jou naaste oordeel nie.

Moenie spog nie

13. Julle sê: “Ons sal vandag of môre na ’n stad gaan. Dan sal ons ’n jaar lank daar bly en ons sal goed koop en verkoop, ons sal meer geld kry as wat ons gehad het.”Maar julle moet luister na wat ek nou sê:

14. Julle is mense wat nie weet wat môre in julle lewe sal gebeur nie, want julle is soos ’n miswolk, ’n mens sien dit net ’n kort tydjie, en dan verdwyn dit.

15. Nee, julle moet sê: “As die Here wil hê dat dit moet gebeur, dan sal ons lewe en dan sal ons hierdie dinge doen.”

16. Maar julle sê dit nie, julle spog oor al die dinge wat julle doen en julle is trots daarop. Dit is verkeerd wanneer mense so spog.

17. Daarom, wanneer ’n mens weet dat hy die regte ding moet doen maar hy doen dit nie, dan doen hy sonde.