hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 3 Bybel vir Almal (ABA)

Die tong

1. My vriende, julle moenie almal probeer om vir ander mense te leer nie. Julle weet dat God swaarder sal oordeel oor ons wat vir ander mense leer.

2. Ons almal doen baie maal iets wat verkeerd is. As iemand nooit iets verkeerd sê nie, dan lewe so ’n mens soos God wil hê. Dan kan hy ook sy hele lewe bestuur soos ’n mens ’n perd stuur met ’n stang.

3. As ons ’n stang in ’n perd se bek sit sodat hy moet doen wat ons wil hê, dan kan ons die hele perd stuur met die stang.

4. Dit is dieselfde met seilskepe: Seilskepe is baie groot, en die sterk winde laat hulle seil op die water. Maar die kaptein gebruik net ’n baie klein roer om die skip te stuur waarnatoe hy wil gaan.

5. Dit is dieselfde met die tong: Die tong is ’n klein deeltjie van die liggaam, maar hy spog dat hy groot dinge kan doen. ’n Klein vuurvlammetjie kan ’n groot bos aan die brand steek!

6. Die tong is soos ’n vuur wat brand. Die tong is een van die dele van die liggaam, maar dit is ook soos ’n hele wêreld vol verkeerde dinge. Dit maak die hele liggaam vuil. Dit steek ’n mens se hele lewe aan die brand, van die begin tot die einde, en die tong se vuur kom reguit van die hel.

7. Want ’n mens kan al die verskillende soorte wilde diere en voëls mak maak, ook diere wat kruip en seediere. Die mense hét hulle al klaar mak gemaak.

8. Maar niemand kan die tong mak maak en oor hom regeer nie. Die tong sê slegte dinge en niemand kan dit stilmaak nie. Die tong is so gevaarlik soos gif wat mense kan doodmaak.

9. Ons prys die Here en Vader met die tong, maar met dieselfde tong vloek ons mense, en God het daardie mense gemaak om te regeer in sy plek.

10. Ons prys die Here en ons vervloek mense met dieselfde mond. My vriende, dit moenie so wees nie.

11. Julle weet dat daar nie uit dieselfde fontein soet water én bitter water kom nie.

12. My vriende, ’n vyeboom kan nie olywe dra nie en ’n wingerdstok kan ook nie vye dra nie, dit is seker. Dit is dieselfde: Daar kan nie soet water kom uit ’n fontein wanneer sy water sout is nie.

Hemelse wysheid en aardse wysheid

13. Wanneer een van julle dink dat hy wysheid het en verstandig is, dan moet hy wys dat hy verstandig is. Hy moet reg lewe en hy moet doen wat die Here wil hê, hy moet nederig wees soos ’n wyse mens moet wees.

14. Maar as julle baie jaloers is en as julle altyd alles vir julleself wil hê, dan moet julle nie spog en sê dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie.

15. Daardie wysheid kom nie van God nie. Dit is die wysheid van mense wat net oor die dinge van hierdie wêreld dink, dit is nie geestelik nie, dit kom van die duiwel.

16. Want wanneer mense jaloers is en altyd alles vir hulleself wil hê, dan maak hulle probleme en hulle doen al die slegte dinge.

17. Nee, die wysheid wat God gee, is rein. Daardie wysheid maak vrede tussen mense, dit is vriendelik en dit luister na die dinge wat ander mense vra. Wysheid is goed vir mense, dit is soos ’n boom wat goeie vrugte dra. Wysheid dink nie dat een mens belangriker is as ’n ander mens nie, dit is nie skynheilig nie.

18. Mense wat reg doen, maak vrede tussen mense, en hulle lewe self ook in vrede.